(Parlementsdebat: 2023-Aansuiweringsbegroting-wetsontwerp (Mediumtermyn- bestedingsraamwerk))
Die ANC se balanseertoertjie om die groeiende gate in Suid-Afrika se nasionale huishouding toe te stop, raak al hoe meer desperaat en irrasioneel.
Die volgende voorbeelde in die Mediumtermyn-aansuiweringsbegrotingwetsontwerp laat min twyfel oor die ANC se geskarrel en die krisis waarin die land verkeer:
• R300 miljoen word toegeken aan die fonds vir politieke partye terwyl R306 miljoen weggeneem word van openbare werke en infrastruktuur.
• R1,3 miljard word toegeken aan die departement van verdediging en R1,75 miljard word weggeneem van basiese onderwys.
• R1,56 miljard word weggeneem van gesondheid met talle hospitale en klinieke wat in ʼn haglike toestand is terwyl R80 miljoen gegee word aan die polisie se BBP-beskermingsdienste.
• R496 miljoen word weggeneem van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling.
• R3,184 miljard word weggeneem van menslike nedersettings.
• Midde-in die energiekrisis word R430 miljoen weggeneem van energiebronne, -programme en -projekte.
• R1,27 miljard word weggeneem van vervoer.
• R881 miljoen word weggeneem van water en sanitasie.
Dit is moeilik om te verstaan hoe bykomende geld toegeken kan word aan ʼn departement soos verdediging wat, soos dit uit onlangse mediaberigte geblyk het, R5 miljoen mors op ʼn enkele begrafnis.
Om dit erger te maak word geld weggeneem van basiese onderwys waar baie skole steeds puttoilette het. Dit wys hoe skeefgetrek die ANC se prioriteite is.
Net so onverstaanbaar dat geld weggeneem kan word van ʼn departement soos water en sanitasie terwyl verslae oor water en rioolverwerking jaar na jaar ʼn prentjie van toenemende verval skets.
Mense wat nie lopende water, basiese dienslewering of gesondheidsorg kry nie, moet besef dat die regering nie oor hulle omgee nie.
Geld word weggeneem van gesondheid terwyl babas en siekes sterf weens gebrekkige toerusting en infrastruktuur of die totale verval daarvan.
Vir die ANC is die beskerming en welstand van ministers, wat reeds in weelde leef op die rekening van die belastingbetaler, veel belangriker.
Geld word weggeneem van vervoer terwyl die verval van paaie ʼn kritieke kantelpunt bereik het.
Wat korrupsie aanbetref, het die regering veel te sê oor sy pogings om dit te bestry. Die realiteit is dat die aantal staatsdienswerkers wat sake met die staat doen, besig is om toe te neem.
Suid-Afrikaners wat swaar kry, wat nie werk het nie, wat uitgelewer is aan swak gesondheidsorg, nie krag of water het nie en ry op paaie wat by die dag meer slaggate in het, besef toenemend die ANC het nie meer ʼn “goeie storie” om te vertel nie.
Die ANC-storie het ʼn gruverhaal van werkloosheid, hongersnood en lyding geword.
Die tyd het aangebreek vir ʼn regering wat werklik omsien na die land en al sy mense, nie net na ʼn bevoorregte handjievol kaders nie.