Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Aansuiweringsbegroting van Newcastle-munisipaliteit onbefonds en onrealisties

Die VF Plus het tydens ‘n raadsvergadering van die Newcastle-plaaslike munisipaliteit (Charlestown, Newcastle) teen die munisipaliteit se aansuiweringsbegroting gestem omdat dit onbefonds is en die voorgestelde finansiering daarvan, onrealisties is.

Die party het die afgelope jare telkens gewaarsku dat ‘n onbefondsde begroting onwettig is in terme van die Munisipale Finansiële Bestuurswet.

Die strategiese uitvoerende direkteur, Sam Nkosi en die burgemeester, dr. Ntuthuko Mahlaba, se erkenning dat die begroting steeds nie gefinansier is nie, is ‘n bewys dat daar geen erns is om die benarde finansiële situasie waarin die munisipaliteit verkeer, om te keer nie.

Die VF Plus het die volgende punte uitgelig oor die voorgestelde befondsing van die begroting:

1. Bedryfsinkomste:

• Die likiditeit van die munisipaliteit was die afgelope paar jaar onder druk. Die bedryfsinkomste is weer afwaarts aangepas met R58,8 miljoen tot R2,130 miljard, soos aangedui deur die verskillende inkomstebronne waarvan die eiendomsbelasting die hoogste was op R47,7 miljoen
• Die meeste ander dienste is ook afwaarts aangepas wat verder negatief sal bydra tot die debiteur/skuldeiser-verhouding, aangesien kontantinkomste nie voldoende is om die huidige skuldeisers te betaal nie.

2. Bedryfsuitgawes

• Die totale bedryfsuitgawe is met R7,0 miljoen opwaarts aangepas vanaf die begroting van R2,388 miljard tot R2,395 miljard, wat die munisipaliteit se finansiële posisie onder ernstige druk plaas.
• Verbeterde betaling aan krediteure kan slegs geskied wanneer die kontantvloei-situasie verbeter. Totdat die skuld wat teen Desember 20202 R806 miljoen beloop het nie afbetaal is nie, sal die krediteure aan wie R406 miljoen verskuldig is, nooit betyds betaal word nie. Dit sal daartoe lei dat ondernemings weier om met die munisipaliteit sake te doen.
• Die vermindering van die munisipaliteit se salarisrekening sal 'n klein impak op die probleem hê, aangesien dit hoofsaaklik te wyte is aan poste wat nie gevul is nie wat onder normale omstandighede weer gevul moet word. Oortydbetalings is te hoog en die totale uitgawes aan werknemers moet besnoei word om die toekomstige uitgawes in ooreenstemming met inkomste te bring.
• Die toename in grootmaat watervoorsiening wat hoofsaaklik te wyte is aan vermorsing in die oostelike deel van Newcastle sonder dat dit behoorlik aangespreek word. Solank as wat waterbeperkers nie aan die watermeters van nie-betalende verbruikers van Newcastle-Oos gekoppel word nie, sal die betalingsfaktor nie verbeter nie. Daar kan nie voortgegaan word om slegs betaling te ontvang vir ongeveer 48% van die water wat aan verbruikers voorsien word nie.

Die kultuur van wanbetaling vir dienste gelewer is ‘n maaksel van die ANC en voor dit nie uitgeroei is nie, sal die Newcastle-munisipaliteit nie sy grondwetlike plig kan nakom deur die dienste aan die gemeenskap te lewer waarvoor hulle ten duurste betaal nie.

Die ANC beskik nie oor die vermoë om enige munisipaliteit suksesvol te bestuur nie en moet met die komende plaaslike regeringsverkiesing vervang word met ‘n bevoegde regering wat inwoners se belange eerste stel.

Intussen tree die VF Plus gereeld in gesprek met die raad en lê planne voor om die dorp se inkomste te verbeter en sy uitgawes te besnoei. Die party sal voortgaan om in die belang van al die inwoners die stryd te voer teen ‘n onbevoegde ANC-bestuur.

Navrae: 082 388 3000

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.