‘n Aangrensende plakkerskamp bedreig eiendomswaardasies van die Vanes-landgoed op Uitenhage in die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM). Dit is een van vele klagtes wat inwoners van dié dorp in ‘n vergadering met die VF Plus geopper het.
Inwoners verkwalik die huidige en vorige munisipale bestel wat nie gehoor gegee het aan inwoners se pleidooie om in te gryp en die woonbuurt te help red nie.
Een van die groot probleme is die informele nedersetting Moeggesukkel wat so uitgebrei het in die laaste jaar dat bousels byna tot aan die straat oorkant die Vanes-landgoed gebou is.
Dié nedersetting het ook nie toegang tot munisipale dienste soos water, elektrisiteit en sanitasie nie.
Die voorheen bosryke omgewing word ontbos vir brandhout en om plek te maak vir nuwe plakkershutte. Dit lok ook mense van regoor Uitenhage om onwettig vullis daar te stort.
Al hierdie faktore bring mee dat dié landgoed se eiendomswaardasies aansienlik daal wat ook die metro se inkomste aan inkomstebelasting negatief sal beïnvloed.
Die VF Plus het ‘n dringende skrywe gerig aan die burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metroraad (NMBM), Nqaba Bhanga en die munisipale bestuurder, Anele Qaba, om met die betrokke partye te vergader om ‘n geskikte oplossing vir die onderskeie gemeenskappe se probleme te vind.
Die VF Plus sal voortgaan om in belang van al die inwoners van NMBM op te tree en te veg vir hul reg tot gehalte dienslewering.
Navrae: 072 582 3461