"Die VF Plus verwelkom die uitspraak van die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria vandag dat die Zithabiseni-kwarantyngerief in Mpumalanga gesluit moet word en dat die meer as 100 mense in die vrygelaat moet word," sê Philip van Staden, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van gesondheid, openbare werke en infrastruktuur.
"Hierdie uitspraak is ‘n bewys dat die kwarantyn-geriewe in Suid-Afrika wat mense huisves wat vanaf buurstate na Suid-Afrika terugkeer, nie voldoende ingerig is vir menslike verblyf nie. Die VF Plus het die afgelope maand verskeie klagtes oor soortgelyke geriewe regoor die land ontvang en die klagtes is nou met die uitspraak op die spits gedryf.
"Hierdie uitspraak sal nou die minister van openbare werke en infrastruktuur, Patricia de Lille, en die minister van gesondheid, Zweli Mkhezi, dwing om aandag aan al hierdie geriewe te skenk en te sorg dat hulle reg, higiënies en op standaard is alvorens mense daar gehuisves kan word. Dit sal ook die tafel dek vir provinsiale regerings en munisipaliteite om saam met die betrokke ministers toe te sien dat geriewe voldoen aan al die wetlike gesondheidstandaarde.
"Hierdie was ‘n toets vir Regulasie 480, artikel 7 wat uitgereik is op 29 April 2020 en vandag se uitspraak stel dit duidelik dat mense nie ingevolge drakoniese regulasies aangehou kan word teen hul wil en sonder dat die nodige Covid-19-toetse uitgevoer word nie.
"Die VF Plus gaan die minister van openbare werke en infrastruktuur sowel as die minister van gesondheid versoek dat parlementslede al hierdie geriewe regdeur die land besoek om oorsig oor die proses uit te voer. Geriewe sal nou ook op ‘n dringende basis aan LP’s geïdentifiseer moet word om die oorsigproses te kan uitvoer."
"Dit is die VF Plus se mening dat al die ander geriewe waaroor daar klagtes die afgelope maand ontvang is ook gesluit moet word aangesien hulle nie aan die algemene gesondheidstandaarde voldoen nie," sê van Staden.