"Gebrekkige riool- en suiweringstelsels asook die storting van riool in waterbronne in verskeie provinsies in Suid-Afrika skep ‘n ysingwekkende risiko vir die verspreiding van Covid-19 aangesien die nasionale departement van gesondheid in ‘n dokument erken dat die virus deur menslike ontlasting oorgedra kan word," sê dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP.
"Wetenskaplike toetse by suiweringsaanlegte in 46 stede en dorpe wat AfriForum in 2014 laat doen het, het toe reeds aangedui dat die helfte van dié stede en dorpe se behandelde water onaanvaarbaar hoë hoeveelhede E.coli bevat wat 'n groot bedreiging vir verbruikers en die omgewing inhou. Die kans dat Covid-19 ook so kan versprei, al beskou die departement van gesondheid dit as 'n lae risiko, kan in 'n land soos Suid-Afrika vernietigende gevolge inhou.
"Twee jaar gelede het die weermag ingegryp in ‘n poging om die Vaaldam te red van onder meer rioolbesoedeling, maar hierdie projek is ook gekelder toe die fondse opgedroog het. Die ANC het in sy bewind van 25 jaar feitlik niks gedoen om die besoedeling van die Vaaldam en elders stop te sit nie.
"Die Covid-19-pandemie het die aandag op die risiko's van mikrobiologiese besmettings getoon. Die huidige koronavirus het uit ander, minder gevaarlike koronavirusse ontwikkel. Op soortgelyke wyse kan patogene wat in Suid-Afrika se onbehandelde riool voorkom, ook muteer om 'n pandemie te begin."
"In ‘n dokument wat die VF Plus onlangs van die wateropvanggebied-bestuursagentskap van Inkomazi-uSuthu in Mpumalanga bekom het, word gemeld dat elk van die 33 maandelikse toetse wat die agentskap in die totale distrik gedoen het, positief getoets het vir die bakterie E.coli wat in rou ontlasting voorkom.
"Die haglike omvang van rioolbesoedeling van Suid-Afrika se waterbronne is welbekend en goed gedokumenteer. Verskeie organisasies en groepe, insluitend die VF Plus, het hulle al onder meer na die Menseregtekommissie (MRK) gewend om aan te dring op optrede. Die ANC is ten volle hiervoor aanspreeklik," sê Boshoff.