Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Wetenskap en innovasie skep basis vir land se ekonomie en sosiale werklikheid

"Wetenskap en innovasie skep die basis waarop 'n land se ekonomie en selfs sy sosiale werklikheid gebou word. Arm lande is nie dié sonder hulpbronne nie, maar dié waar wetenskap geminag word en innovasie nie plaasvind nie," sê Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van wetenskap en tegnologie.

"In Suid-Afrika word wetenskap en innovasie veral deur universiteite en die entiteite van die betrokke departement gedryf. Dit is die Wetenskaplike Nywerheids–en Navorsingsraad (WNNR), die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN), Nasionale Navorsingstigting (NRF) en die Tegnologie Innovasieagentskap (TIA).

 

"Die verwaarlosing van hierdie entiteite skep nie onmiddellik 'n krisis nie, maar as 'n agterstand eers opgebou is, is dit byna onmoontlik om dit weer in te haal."

 

"Kundigheid en vaardighede op hierdie terrein is skaars en duur. 'n Ontwikkelingstaat, soos wat die regering van Suid-Afrika aanbied, is normaalweg bereid om fondse beskikbaar te stel om dié kennis en vaardighede uit die buiteland in te voer.

"Die Suid-Afrikaanse regering, daarenteen, stel kwotas en rasteikens in, wat 'n kunsmatige skaarsheid skep, bo-op die natuurlike skaarsheid. Dit is vir die VF Plus 'n onverstandige benadering. Bowendien is dit kortsigtig om in reële terme hierdie departement se begroting te sny, soos tans die geval is.

 

"Die departement en sy entiteite word betreklik goed bestuur, hoewel daar vaal kolle is."

 

Twee word kortliks uitgelig:

By die TIA was daar ernstige bestuursprobleme, wat wel tans aangespreek word; en die sosiale impakstudie rakende die SKA-projek is deur die WNNR gedoen, terwyl dit vierkantig op die terrein van die RGN lê.

"Die VF Plus kan, by uitstek op grond van die afbrekende beleid van raskwotas, nie hierdie departement se begrotingsverslag steun nie," sê Boshoff.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.