Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Departement van landbou tot op hede stil oor omvang van bek-en-klouseer

"Dit is uiters kommerwekkend dat die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling selfs vandag nog in die portefeuljekomitee oor landbou nie kon sê wat die omvang van die jongste uitbraak van bek-en-klouseer in Limpopo is nie," sê Tammy Breedt, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van landbou.

"Suid-Afrika se landbousektor gaan reeds gebuk onder die onsekerheid van grondonteiening sonder vergoeding, die droogte wat baie van die broodmandjie-provinsies reeds vir jare lank teister en nou ook die verbod op veilings in vier provinsies weens die uitbraak van bek-en-klouseer.

"Om die probleem te vererger, het die departement ‘n wesenlike tekort aan veeartse. Dit kan as een van die redes vir vanjaar se tweede uitbraak van bek-en-klouseer beskou word.

 

"Dit is onaanvaarbaar dat die departement slegs kla oor leemtes soos die toediening van inentings wat ‘n afgewentelde funksie is. Die probleem word nie daadwerklik behandel deur indringend veeartse aan te stel en die stelsel te verbeter nie."

 

"Dit dui aan dat die departement nie ernstig is oor voedselsekuriteit of landbou as een van die land se hoof ekonomiese dryfvere nie. Indien die ANC-regering en die departement ernstig was oor die probleem, sou hy jare gelede seker gemaak het dat die land se rooi sones en grense beveilig word om te voorkom dat gesonde diere met besmette diere in aanraking kom.

"Die provinsies aangrensend aan die probleem geteisterde Limpopo; Noordwes, Gauteng en Mpumalanga, moet nou weens die onvermoë van die staat om sy werk te doen, ly onder die verbod van veilings in hierdie provinsies.

 

"Die departement moet so gou moontlik gesonde gebiede binne hierdie provinsies verklaar waarbinne veilings steeds kan plaasvind om sodoende te verseker dat die boere en die ekonomieë van die provinsies nie finaal geknak word nie."

 

"Die departement moet sonder verwyl beheer kry oor die situasie, sonder om die sukkelende landbousektor finaal te vernietig," sê Breedt.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.