"Medupi en Kusile staan vir almal om te sien as monumente van die vernietigende effek van regstellende aksie (RA) en die onvermoë en onwilligheid van die argitek hiervan, die ANC-regering, om die realiteit van sy mislukte rassebeleid te erken," sê Wouter Wessels, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van openbare ondernemings.
"Die verslag van die openbare rekeninge-komitee oor sy ter plaatse-besoeke aan Medupi en Kusile wys dat daar geen geheim bestaan oor waarom Eskom in so 'n benarde finansiële posisie is nie en betroubare kragvoorsiening in Suid-Afrika bedreig word nie.
"Eskom het by die bou van hierdie kragstasies toegelaat dat die entiteit uitgebuit word deur kontrakteurs, korrupsie is toegelaat en albei projekte spreek van 'n tekort aan kundigheid, swak beplanning en totale wanbestuur. Hierdie kragstasies kos miljoene rande meer as waarvoor begroot is en neem baie langer om te voltooi as beplan.
"Die EFF gee uitkontraktering die skuld vir die probleme en identifiseer wittes en sogenaamde ‘wit heerskappy’ as die rede vir uitkontraktering.
"Dit is egter weens regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging dat daar 'n tekort aan die nodige vaardighede by die kragvoorsiener is. Dit het gelei tot ontoereikende beplanning en die noodsaak om uit te kontrakteer."
"Die EFF en die ANC se klem op ras lei tot Suid-Afrika se ondergang. Die ANC-regering stel nie in meriete belang wanneer dit kom by aanstellings nie. Na 25 jaar is daar 'n totale uittog van kundigheid en ly alle Suid-Afrikaners as gevolg van die gevolglike swak dienslewering en wanbestuur.
"Daar is net een oplossing hiervoor: Doen weg met regstellende aksie en stel die regte, bevoegde mense aan om die werk te doen. Dan is dit nie nodig om kundiges soos ingenieurs van die buiteland te kry om die probleme by die kragstasies te assesseer nie.
"Kundigheid en nie kleur nie, is wat nodig is by dié kragsentrales, maar ook by al die land se staatsentiteite om bestaande probleme op te los en in almal se behoeftes te voorsien. Die tyd vir rassepolitiek in Suid-Afrika is verby."
"Die tyd het aangebreek om die land vir al sy inwoners te laat werk. Kleur gaan niemand red as die skip, wat Suid-Afrika genoem word, sink nie. Wanneer hy sink, sink almal saam. Dit is 'n skande dat die regering toegelaat het dat die land in donker gedompel word en die kragvoorsiener bankrot is," sê Wessels.