"Die voorval die afgelope naweek waar ‘n bejaarde plaasbestuurder by Zastron in die Vrystaat aangeval is en die plaaslike polisiekantoor daarna nie ‘n voertuig beskikbaar gehad het om die toneel te besoek nie, wys dat die polisie nie erns het met landelike beveiliging nie," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
"Dit wil voorkom asof die polisie se nasionale landelike beveiligingsplan, wat teen 31 Augustus verlede jaar in werking gestel sou word maar toe weens die Covid-19-pandemie op ‘n sylyn geplaas is, nie meer ‘n prioriteit is nie.
"Tydens die voorval die afgelope Sondag, is die 77-jarige mnr. Simon Makhota aangerand en met messe gesteek waarna sy drie aanvallers probeer het om hom in ‘n septiese tenk te verdrink.
"Omliggende boere het hulp gaan verleen, maar toe die polisie op Zastron ontbied is, kon hulle na verneem word nie na die toneel uitgaan nie omdat daar nie ‘n voertuig beskikbaar was nie.
"Terwyl die publiek gereeld sien hoe polisie-mannekrag vermors word om leë strande te patrolleer, is dit onaanvaarbaar dat daar nie ‘n voertuig beskikbaar is vir ‘n ernstige plaasaanval nie."
"Infrastruktuur en mannekrag is twee van die belangrikste komponente van die beveiligingsplan en dit is vir die VF Plus onaanvaarbaar dat daar klaarblyklik geen vordering gemaak is met die plan nie.
"Die VF Plus het reeds met die afskop van die beveiligingsplan in 2019 daarop gewys dat vorige, soortgelyke planne misluk het omdat woorde nie in dade omskep is nie. Wat tans gebeur is ‘n herhaling van die vorige mislukkings.
"Die party dring lank reeds daarop aan dat plaasaanvalle tot prioriteitsmisdaad verklaar word sodat meer hulpbronne beskikbaar gestel kan word vir landelike beveiliging en sal aanhou om hom hiervoor te beywer."
"Die VF Plus sal die saak weer opneem in die parlement se portefeuljekomitee vir polisie en met die nasionale kommissaris, lt.genl. Khehla Sithole.
"Die party sal toesien dat die beveiligingsplan op die agenda bly. Die pandemie en die inperkingsregulasies kan nie as verskoning gebruik word om ook hierdie inisiatief te kelder nie," sê Groenewald.