"Die Vrystaat se provinsiale departemente bloei fondse. Die departemente word swak bestuur en ly miljarde rande se verliese gedurende ‘n begrotingstermyn as gevolg van swak beplanning, swak bestuur en verkeerde prioriteite," het Tammy Wessels, VF Plus-LPW in die Vrystaat gesê.
Wessels het tydens 'n debat oor die Vrystaatse regering se begroting gesê behoorlike voorafbeplanning, impakstudies, volledige besigheidsplanne en ordentlike nabetragting vind nie plaas nie.
"Talle projekte misluk as gevolg van die feit dat behoorlike kontroles nie in plek is nie.
"Die Vrystaat is soos ‘n kosmiese swart gat van projekte waarin miljarde rande bloot net verdwyn en waar die begunstigdes en gemeenskappe met niks gelaat word nie. Sprekende voorbeelde hiervan is die Vrede-Suiwelprojek, Ramkraal-wetgewerkompleks, die Gariep-visprojek en die Madeira Blommeskou. So ook kos Macufe die provinsie baie meer as wat dit in.
"Die Waardigheidsprojek (om sanitêre behoeftes aan te spreek) wat deur die departement van maatskaplike ontwikkeling van stapel gestuur is en die verspreiding van sanitêre produkte vir behoeftige dogters behels, is ‘n uitstekende idee, maar die departement het reeds bewys dat dit nie daartoe in staat is om projekte suksesvol te bestuur nie.
"Die voltooiing van die Botshabelo-rehabilitasiesentrum word jaar na jaar belowe, maar die sentrum is steeds nie funksioneel nie. Die VF Plus is dus nie hoopvol dat die R6 miljoen wat vir die Waardigheidsprojek begroot is wel die begunstigdes sal bevoordeel nie.
"Provinsiale departemente se salarisrekeninge is veels te hoog met nagenoeg 60% tot 80% van departemente se begrotings wat op salarisse bestee word. Dit is ‘n tipiese kenmerk van die ANC-regering om eers na homself en sy kaders om te sien, met die begunstigdes en belastingbetalers wat aan die agterspeen suig.
"Dit is tyd vir ‘n nuwe bestel, dit is tyd om terug te slaan teen die grootskaalse uitbuiting van die Vrystaatse fiskus en sy mense. Die ANC moet by die stembus gestraf word op 8 Mei. Die sleutel tot verandering is nou in kiesers se hande," het Wessels gesê.