"Die bestuur van Eskom moet dringend eerlik wees met die mense van Suid-Afrika oor waar die land werklik staan rakende kragvoorsiening en oor die moontlikheid van ‘n totale kragnetwerk-ineenstorting," sê Anton Alberts, VF Plus-voorsitter.
Die VF Plus gaan so gou moontlik ‘n gesprek voer met Pravin Gordham, minister van openbare ondernemings, om hom te versoek om oop kaarte met die publiek oor die Eskom-situasie te speel.
"Indien daar ‘n waarskynlikheid is dat die netwerk wel op ‘n beheersde of onbeheersde wyse in duie kan stort, moet Eskom dit erken. Die publiek het die reg om te weet wat is die persentasie van waarskynlikheid dat so iets kan gebeur om hulle daarop voor te berei.
"Net soos die publiek, moet alle vlakke van regering, provinsiaal en plaaslik, ingelig word sodat hulle betyds gebeurlikheidsplanne in plek kan stel indien geen krag beskikbaar sou wees nie.
"So gebeurlikheid sal onvermydelik ‘n revolusionêre omgewing skep. Die polisie en weermag sal moet voorberei daarop, maar ook die publiek en burgerlike organisasies sal moet voorberei om mekaar by te staan en seker te maak daar word orde gehandhaaf.
"In hierdie stadium is dit nie duidelik wat die stand van sake by Eskom is nie. Daar is kundiges wat meen dat Eskom reeds in Fase 5 is en nie meer Fase 4 nie. Niemand is egter seker nie en mense moet gis oor die ware stand van sake.
"Indien gekyk word na die aard van, en toename in beurtkrag, dui alles daarop dat daar reeds verby Fase 4 beweeg is en dat daar moontlik nader aan Fase 6 beweeg word.
"Sou die land wel op ‘n totale kragvoosienings-inploffing afstuur en daar breek chaos in die land uit omdat mense nie betyds gewaarsku is nie, sal die regering en Eskom daarvoor aanspreeklik wees.
"Ondervinding het al geleer om nie enige vertroue in die ANC-regering te stel nie en indien die publiek nou ook mislei word, moet die ANC weet hy gaan ‘n duur prys daarvoor by die stembus betaal," sê Alberts.