"Die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, se versoek om hulp aan Gift of the Givers wys dat die ANC nie regtig weet wat die omvang van die provinsie se waterkrisis is nie," sê Armand Cloete, VF Plus-LP en lid van die NRP.
"Die VF Plus verwelkom enige versoek om hulp aan die droogtegeteisterde Vrystaat, maar is daarvan oortuig dat die ANC-self die oorsaak van die waterkrisis is.
"Waterverlies, veral weens swak instandhouding en herstelwerk aan lekkasies, blyk die grootste probleem in die Vrystaat te wees wat ‘n watertekort veroorsaak.
"Volgens die vorige minister van water en sanitasie, Gugile Nkwinti, het die Mangaung-metro-munisipaliteit in die 2017/2018-finansiële jaar alleen meer as 13 miljard liter water weens vermybare waterverlies verloor. Anders bereken, verloor die munisipaliteit 36 miljoen liter water per dag."
"Munisipaliteite onder ANC-beheer blyk die grootste vermorser van water te wees. Indien Ntombela en ANC-munisipaliteite nie dringend aandag skenk aan swak instandhouding en ‘n gebrek aan kundige amptenare in munisipaliteite nie, sal Dag-Zero ‘n werklikheid vir die Vrystaat word.
"Die VF Plus het reeds in ‘n parlementêre vraag in die nasionale raad van provinsies (NRP), die minister van water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, versoek om aan te dui hoeveel water in die Vrystaat weens lekkasies verlore gaan. Die party sal ook praktiese maatreëls in die Vrystaatse wetgewer voorstel in ‘n poging om die waterverlies dringend te beperk.
"Alle vlakke van regering bly daarvoor verantwoordelik om die land se waterbronne te beskerm. Die VF Plus sal aanhou poog om reaktiewe krisisbestuur deur voorsorg om te keer sodat inwoners van munisipaliteite nie watertekorte weens die ANC se swak instandhoudingswerk ervaar nie.
"Die Vrystaat mag nie, selfs in normale reënseisoene, water weens lekkasies en onwettige aansluitings, verloor nie. Die Vrystaat kan nie meer die ANC se krisisbestuur bekostig nie," sê Cloete.