fbpx
Vryheidsfront Plus

Vrae oor motiewe agter knaende vervolging van Piet Kleynhans

Die hernude vervolging van ʼn Vrystaatse boer, mnr. Piet Kleynhans, oor ʼn voorval drie jaar gelede toe hy op die honde van onwettige jagters op sy plaas geskiet het, laat nou met reg vrae ontstaan oor die motiewe van die staat oor die aangeleentheid.

Die saak teen Kleynhans is in Maart verlede jaar van die rol geskrap, maar is nou skielik weer heropen en hy is ingelig dat hy binnekort weer in die hof moet verskyn op ʼn aanklag van poging tot moord. Luidens ʼn mediaberig is hy ook ingelig dat daar moontlik verdere klagte teen hom ingebring kan word.

Kleynhans is drie jaar gelede in hegtenis geneem nadat hy skote op die honde van ʼn groep onwettige betreders en jagters op sy plaas afgevuur het. 

Die landbou-gemeenskap van die Vrystaat word toenemend geteiken deur bendes wat onwettig op landbougrond jag en wild aan wrede en onmenslike jagpraktyke onderwerp. Hierdie “jagters” laat honde los op bokke en ander wild en die diere word in baie gevalle lewend verskeur. 

Soos vele ander boere, het Kleynhans volgens hom verskeie klagtes oor hierdie onwettige aktiwiteite ingedien sonder enige daadwerklike optrede. Boere voel dat hulle grootliks aan hul eie lot oorgelaat word.

Die VF Plus het met eie ondersoeke gevind dat hierdie bendes nie net vir sport onwettig jag nie, maar klaarblyklik ook groot bedrae geld wed oor wie die meeste wild in die kortste tyd kan vang. Die probleem het só buite beheer geraak dat boereverenigings nou gedwing word om kennisgewings op te sit teen onwettige jagpraktyke op hul plase.

Hierdie voortgesette vervolging van ʼn wetsgehoorsame boer wat sy eiendom beskerm het teen wettelose bendes, is onaanvaarbaar. 

Die VF Plus sal daarop aandring dat die LUR vir gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer in die Vrystaat, mnr. Jabu Mbalula, terugvoer gee oor sy onlangse vergaderings met georganiseerde landbou waar veediefstal hoog op die agenda was.

Dit is noodsaaklik dat die bedreiging van onwettige jag as ʼn ernstige krisis in hierdie besprekings ingesluit word.

Almal in Suid-Afrika het ingevolge die Grondwet die reg om hulself en hul eiendom te beskerm. Indien die betrokke polisielede in hierdie geval hul werk behoorlik gedoen het en opgetree het teen die onwettige stropers, sou die probleem in die eerste plek nie ontstaan het nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.