Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Voorgestelde verhogings van munisipale kragtariewe sal onhoudbare druk plaas op huishoudings en sake-ondernemings

"Die implementering van die jongste voorgestelde verhogings in kragtariewe wat op 1 Julie 2021 by munisipaliteite in werking tree, is onvolhoubaar en ‘n onreg teenoor munisipale inwoners. Met die saamgestelde inflasie-gekoppelde verhogings soos deur munisipaliteite begroot en die nasionaal aangekondigde 17,8%, kom dit neer op ‘n effektiewe verhoging van meer as 20%," sê Michal Groenewald, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van samewerkende regering en tradisionele sake.

"In die lig van die skokkende onthullings oor die enorme omvang van korrupsie by Eskom wat selfs vorige beramings in die skadu stel, is dié verhoging ‘n absolute skande.

"Die jongste verslae toon aan dat korrupsiebevlekte tenders ten bedrae van R178 miljard, wat reeds deur die spesiale ondersoekeenheid en private ondersoekers geïdentifiseer is, wys in hoe ‘n mate Eskom deur korrupte ANC-politici en staatskapers tot op die rand van die afgrond gedwing is.

 

"Dit is gelykstaande aan ‘n bedrag van sowat R3100 vir elke landsburger of sowat 700 000 Hop-huise. Dit beloop byna die helfte van Eskom se uitstaande skuld van R411 miljard waarvoor onder andere munisipale belastingbetalers nou pa moet staan."

"Suid-Afrikaanse burgers, sakelui en boere word dus gedwing om die misdrywe van Eskom-misdaadsindikate te subsidieer.

"Wat die situasie erger maak, is die feit dat hierdie verhogings op ‘n tydstip kom waar die meeste produktiewe burgers en werkskeppers steeds stry teen die verlammende gevolge van die Covid-19-pandemie.

 

"‘n Groot aantal klein- tot mediumgroot-ondernemings sal nie hierdie buitensporige verhoging kan bekostig nie. Verdere afleggings, of die sluiting van ondernemings, is die noodwendige uitvloeisel van die gevolge van die optrede van die betrokke ANC-politici en hul meelopers in staatskaping."

"Die ANC-regering moet ten volle en onvoorwaardelik aanspreeklikheid hiervoor aanvaar.

"Suid-Afrikaners moet in die komende plaaslike verkiesing met hul stemme saamstaan en opstaan om Suid-Afrika eens en vir altyd van hierdie giftige mengsel van ANC-kaderontplooiing en korrupsie te bevry," sê Groenewald.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.