"Die onrussituasie en geweldpleging op baie plekke in Suid-Afrika is onaanvaarbaar en vinnige en ferm optrede is nodig om dit te stuit. Gemoedere loop hoog en ek doen as leier van die VF Plus ’n beroep op almal in die land om kalm te bly en nie onverantwoordelik op te tree nie," sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
"Dit is duidelik dat misdadige elemente hier werksaam is en dat die Zuma-aangeleentheid as rookskerm misbruik word om te steel en plunder.
"Die VF Plus verwelkom die ontplooiing van die weermag (SANW) in sekere gebiede. Hierdie optrede moet vinnig en kragdadig wees aangesien die onrus reeds momentum opgebou het.
"In hierdie opsig het die regering misluk aangesien daar voorsien moes word dat opstandige optrede sou uitbreek indien oud-president Jacob Zuma wel tronkstraf sou kry.
"Die intelligensiedienste in Suid-Afrika is duidelik onbevoeg. Indien die staatsveiligheidsagentskap (SVA) sy werk behoorlik gedoen het, sou al die vooraf-tekens genoeg waarskuwing gebied het oor presies dit wat nou besig is om in die land af te speel."
"Die belastingbetalers en sakelui van Suid-Afrika moet weereens die prys betaal vir die onvermoë van die regering om wet en orde te handhaaf. Dit wil tans voorkom of die regering net beheer oor wetsgehoorsame burgers het.
"Die gebeure sal sonder twyfel ’n negatiewe impak hê op beleggings wat onder die huidige ekonomiese omstandighede in die land nie bekostig kan word nie.
"Dit is nie net buitelandse beleggers wat afgeskrik word nie, maar ook plaaslike beleggers wat sien hoe eiendom en sakepersele vernietig en geplunder word.
"Die VF Plus hou die situasie noukeurig dop. Plaaslike en gemeenskapsveiligheidstrukture is op ’n gereedheidsgrondslag en sal hul eiendom en hul gesinne beskerm.
"Die regering moet vinnig en ferm optree om die boodskap te stuur dat die vlaag van misdadigheid, vandalisme en plundery in die land nie geduld sal word nie," sê Groenewald.