Die VF Plus het ‘n klag ingedien teen die waarnemende munisipale bestuurder van die Phokwane-plaaslike munisipaliteit (Hartswater, Jan Kempdorp en Pampierstad), me. Kealoboga Gaborone, weens moontlike finansiële ongerymdhede.
Me. Gaborone het na bewering bedrae van meer as ‘n halfmiljoen rand aan die maatskappy Bathu Soft bewillig terwyl daar geen kontrak tussen die munisipaliteit en die maatskappy bestaan nie. Die maatskappy spesialiseer in prestasiebestuur.
Dit het onder die VF Plus se aandag gekom dat die Valke strafregtelike klagte in dié verband ondersoek en die party het nou daarop aangedring dat me. Gaborone se betrokkenheid ook ondersoek word en dat dissiplinêre stappe teen haar geneem word.
Die betalings aan Bathu Soft kom neer op ongemagtigde betalings kragtens Artikel 171 van die Munisipale Finansiële Bestuurswet.
Die wet bepaal ook dat enige bewerings van finansiële wangedrag ondersoek moet word en dat tugstappe geneem moet word teen amptenare indien daar gronde is.
Die VF Plus het in April vanjaar ook ‘n dissiplinêre klag teen me. Gaborone ingedien weens ‘n versuim om haar wetlike plig na te kom om om waterbesoedeling te voorkom na erge rioolbesoedeling in Jan Kempdorp.
Die VF Plus sal hierdie saak verder voer aangesien daar steeds geen stappe geneem is om die besoedeling stop te sit nie.
Intussen is grondwater reeds erg besoedel. Die VF Plus is in besit van ‘n deskundige verslag waarin bevind is dat boorgatwater in dié omgewing reeds tot so ‘n mate besoedel is dat dit nie meer geskik is vir menslike gebruik nie.
Dit is onaanvaarbaar dat hierdie waarnemende munisipale bestuurder haar nie steur aan haar wetlike verpligtinge nie. Dit is juis die plig van ‘n munisipale bestuurder om toe te sien dat ‘n munisipaliteit sy wetlike pligte en verantwoordelikhede nakom.
‘n Versuim daarvan kan lei tot die totale verval van ‘n munisipaliteit, soos in Phokwane gesien kan word.
Die VF Plus sal alles in sy vermoë doen om finansiële wanbestuur te voorkom deur die amptenary tot verantwoording te roep.
Navrae: 072 938 8588