"Die ANC het die deur wawyd oopgemaak vir grondgrype in Suid-Afrika op ‘n skaal wat hy nie sal kan bestuur nie," sê dr Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
Groenewald sê die effek van president Cyril Ramaphosa se aankondiging Dinsdagaand dat die ANC sal voortgaan met die proses om Artikel 25 uit die Grondwet te verwyder, skep nou oënskynlik wye verwagting dat grondvergrype aanvaarbaar is.
Woensdagoggend, ‘n dag na pres. Ramaphosa se aankondiging in die media, is ‘n boer van Wesselsbron in die Vrystaat deur lede van die gemeenskap met grondgrype gedreig.
‘n Klag is reeds by die polisie aanhangig gemaak en die VF Plus sal die provinsiale polisiekommissaris versoek om die ondersoek effektief af te handel. Indien die klagtes nie deeglik ondersoek word en oortreders vervolg word nie, sal die voorval ‘n presedent skep wat tot nog grondgrype kan lei.
In ‘n video op sosiale media sê ‘n dreigende besetter dat pres. Ramaphosa werkers wat grond wil hê, aangemoedig het om met boere daaroor in gesprek te tree.
"Dit is nie ‘n ideale situasie nie.
"Die gronddebat in Suid-Afrika is tans hoogs-vlambaar en gesprekke tussen boere en besetters sal duidelik nie vreedsaam verloop nie.
"Die VF Plus sal in die komende debatte in die parlement pres. Ramaphosa en die minister van polisie, Bheki Cele, vra wat hulle gaan doen om te verseker dat sulke gesprekke nie tot geweld lei nie.
"Die ANC het boere en grondeienaars aan onwettige grondgrype uitgelewer. Ons word nou blootgestel aan geweld wat kan volg uit ‘n verwagting van die meerderheid Suid-Afrikaners dat grond bloot gevat kan word.
"Die ANC se plan om onteiening sonder vergoeding te versnel, kan lei tot anargie en grondgrype, soos in Zimbabwe gebeur het," sê Groenewald.
Die VF Plus gaan sal intussen voortgaan met sy amptelike ‘n klag by die Verenigde Nasies (VN) se menseregtekommissie vir die oortreding van artikel 16 van die VN se Handves en Internasionale Deklarasie van Menseregte wat private eiendomsbesit beskerm en onteiening sonder vergoeding verbied.