Terwyl Suid-Afrika se werkloosheidskoers gestyg het na 37.2%, het Johannesburg 109 000 werksgeleenthede oor die eerste twee kwartale van die jaar geskep. Die werkloosheidsyfer in Johannesburg het volgens Statistiek SA van 32.3% tot 30.8 % gedaal.
"Die sukses in die daling van Johannesburg se werkloosheid word toegeskryf aan die goeie bestuursvermoë van die veelparty-regering waarvan die VF Plus deel is," sê Franco de Lange, VF Plus-raadslid en lid van veelparty-regering in die Johannesburg-metroraad.
Die stad het R8.7 miljard se nuwe beleggings gedurende die 2017/18 boekjaar gelok wat R3 miljard meer is as wat vooruitgeskat was.
Daar is ook ‘n rekord getal nuwe beleggings wat gekoppel word aan nuwe projekte om so werkskepping te stimuleer.
De Lange sê dit is ‘n klinkklare bewys van beleggers en die privaatsektor se vertroue in die stad.
"Die aanstelling van 1 500 nuwe metropolisielede in die stad, het ook ‘n positiewe uitwerking op ekonomiese groei.
"Teen 2021 sal Johannesburg spog met 14 geleentheidsentrums waar kleinsake-ondernemers en voornemende entrepreneurs opleiding en befondsing sal ontvang om so die werkloosheidsyfer verder hok te slaan.
"Hierdie suksesse is ‘n bewys van hoe ‘n veelparty-regering ‘n positiewe uitwerking op ‘n stad se ekonomie kan hê," sê De Lange.