Die VF Plus in die ANC-beheerde Matlosana-plaaslike munisipaliteit (Klerksdorp, Stilfontein, Orkney en Hartbeesfontein), het vandag die burgemeester, mnr. Ntlupheko Tsolela, om ʼn dringende verslag gevra oor ernstige bewerings van ongerymdhede in die munisipaliteit.
Die versoek volg nadat Tsolela in ʼn verslag aan die raad bekendgemaak het dat ʼn burgermeesterskomiteelid, mnr. Moagi Kodisang, op “spesiale verlof” geplaas is hangende ʼn polisie-ondersoek na sy betrokkenheid by dieseldiefstal by die Klerksdorpse varsproduktemark.
Die markmeester, mnr. Victor Ramokanate, het ʼn klag van diefstal teen hom by die polisie aanhangig gemaak nadat hy na bewering op kringtelevisie tydens ʼn diefstal-voorval geïdentifiseer is.
Een of meer werknemers van die munisipaliteit is ook weens die voorval geskors.
Intussen het verdere bewerings van die ernstige misbruik van munisipale voertuie deur munisipale raadslede ook aan die lig gekom.
Die VF Plus het op ʼn verduideliking aangedring oor die skynbaar inkonsekwente optrede van die burgemeester waar werknemers summier geskors is terwyl Kodisang net op “spesiale verlof” geplaas is oor dieselfde aangeleentheid.
Die VF Plus het vir Tsolela verder daarop gewys dat sulke inkonsekwente optrede kan lei tot ontevredenheid onder munisipale werkers wat ʼn ontwrigting in dienslewering kan veroorsaak.
Dit is ʼn skande dat Matlosana onder ANC-leiding deurlopend in omstredenheid gedompel word, met hooggeplaaste ANC-politici wat gedurig by ernstige ongerymdhede betrek word.
Die inwoners van die Matlosana-omgewing verdien beter as die ANC.


