Die VF Plus het reeds verlede week ‘n amptelike parlementêre vraag gevra aan die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Maite Nkoana-Mashabane, oor die lys van 139 plase wat die regering beoog om te onteien as toetssaak in terme van Artikel 25 van die Grondwet oor onteiening sonder vergoeding.
"Die gelekte lys in die media, skep tans groot angs, verwarring en ontsteltenis by eienaars wie se grond op die lys voorkom," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
"Dit is lynreg in botsing met pres. Cyril Ramaphosa se uitsprake dat onteiening sonder vergoeding voedselsekerheid nie in die gedrang sal bring nie, en die amptelike lys moet in belang van voedselsekerheid dadelik bekend gemaak word."
Luidens berigte het amptenare van die departement gesê plase wat geraak sal word, is slegs waar daar reeds ‘n aanbod gemaak is deur die regering, maar waar grondeienaars nie die aanbod aanvaar het nie.
Grondeienaars sal weet of daar reeds so ‘n aanbod aan hulle gemaak was .
"Dit is intussen net billik en regverdig teenoor grondeienaars dat hulle sekerheid kry sodat hulle gepaste stappe kan neem indien hul plase wel op die amptelike lys is.
"Die VF Plus sal druk uitoefen op die departement om die amptelike lys so spoedig moontlik bekend te stel," sê Groenewald.