Die VF Plus verwerp die Sol Plaatje-plaaslike munisipaliteit (Kimberley, Modderrivier, Ritchie) se begroting vir 2022/23. Die ANC het egter sy skrale meerderheid gebruik om dit deur te druk.
Die VF Plus het telkens leemtes in die begroting uitgewys tydens openbare vergaderings in die aanloop tot die finale ter tafellegging van die begroting.
Hierdie leemtes sluit onder meer in dat die nuwe kragtariewe nie behoorlik aan inwoners gekommunikeer is nie asook 'n beleid wat dit te maklik maak om van erfbelasting vrygestel te word.
Die werklikheid is dat enigiets wat gratis uitgedeel word, deur iemand anders betaal moet word.
Op hierdie wyse is Sol Plaatje besig om sy getroue belastingbetalers uit te put. Oor die lang termyn kan dit daartoe lei dat Kimberley nie daarin kan slaag om nuwe beleggers te lok nie.
Verhoogde vergoeding van raadslede is 'n deel van die begroting waarteen die VF Plus ook beswaar aangeteken het.
Die party het aangevoer dat daardie geld eerder vir dienslewering aangewend kan word.
Die ANC het toegestem om dit vir latere oorweging te laat oorstaan.
Die VF Plus sal voortgaan om teen wanbestuur in Sol Plaatje te veg.
Die party sien daarna uit om ná die 2026-munisipale verkiesing deel te wees van 'n veelparty-koalisie wat sake in Sol Plaatje sal regruk.