fbpx
Vryheidsfront Plus

Belangrik om parlement se geloofwaardigheid te herwin

(Parlementêre begrotingsdebat: Parlement)

Persepsies speel ’n belangrike rol in die politiek en om die publiek se vertroue weer te wen oor die geloofwaardigheid van die parlement, sal parlementslede self die leiding moet neem.

Volgens ’n meningspeiling wat verlede jaar gedoen is, vertrou slegs 27% van Suid-Afrikaners nog die parlement om sy werk behoorlik te doen.

Dit kan ook nie ontken word dat dié instelling ’n krisis beleef nie.

Die gevolge van Covid-19 en die brand wat die parlementsgebou in puin gelê het, het parlementêre prosesse verder bemoeilik en openbare wantroue waarskynlik laat toeneem.

Parlementslede van die Nasionale Vergadering (NV) is deur die mense van Suid-Afrika verkies om hul belange te verteenwoordig.

Van hul belangrikste funksies is om ’n president aan te wys, ’n nasionale forum vir openbare debat te skep, wette te maak en die uitvoerende gesag tot verantwoording te roep.

Lede van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) verteenwoordig die onderskeie provinsies.

Die uitvoerende gesag of kabinet verteenwoordig tans net een politieke party, in hierdie geval die ANC.

Soos elders is daar die afgelope jare ook afgeknyp aan die parlement se begroting. In die 2021/22-finansiële jaar het dié instelling R256,7 miljoen minder gekry terwyl die 2022/23-begroting verder gesny is met R338 miljoen.

Sonder die nodige befondsing kan die parlement nie sy rol na behore vervul nie. Dit omlyn ook die tragiese verlies van miljarde rande se staatsgeld weens diefstal en bedrog oor die afgelope 28 jaar.

Benewens die verdere gevolge van Covid-19 en die brand, wil dit ook blyk dat die wil onder politieke partye ontbreek om werklik weer volstoom op dreef te kom met die werk van die parlement.

Om geloofwaardigheid te herwin, sal daar veral aandag geskenk moet word aan die kwaliteit van die parlement se werksaamhede, soos debatvoering, vrae en antwoorde.

’n Model-aanpassing soos die herinstel van interpellasie-debatte om direkte oorsig te bevorder, kan grootliks hiertoe bydra.

Die parlement en die werk wat daar gedoen word, is die hart van Suid-Afrika se demokrasie. Alles moontlik moet gedoen word om dit weer gesond te laat klop.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.