Die VF Plus het vandeesweek nie die Johannesburgse metroraad se begroting van R83,7 miljard vir die 2024/25-finansiële jaar gesteun nie.
Die feit dat die begroting slegs 0.9% hoër is as die oorspronklike 2023/24-begroting, ten spyte van ʼn 12.72% verhoging in elektrisiteitstariewe, wys duidelik dat die metro se inkomste besig is om te krimp.
Die begroting is totaal uit voeling met die realiteit in Johannesburg.
Die waterkrisis weens verouderde infrastruktuur en lekkasies, die verval in die middestad, die vandalisering en diefstal van elektrisiteitsinstallasies en die toekoms van die munisipale kantore in Braamfontein wat weens veiligheidsredes ontruim is, is glad nie in die begroting aangespreek nie.
Alhoewel die VF Plus waardering daarvoor het dat eiendomsbelastingtariewe met slegs 3.8% verhoog word, word die styging van 7.7% in sanitasie en vullisverwyderingstariewe met 5,9% verwerp.
Terwyl daar ʼn groot agterstand in onderhoud en vervanging van infrastruktuur is, is die totale kapitaalbegroting gesny van R7,62 miljard tot R7,41 miljard.
Die kapitaalbegroting van City Power is verlaag met 5.38% tot R1,28 miljard, terwyl daar ʼn groot agterstand is in die vervanging, vernuwing en opgradering van die elektrisiteitsnetwerk.
Johannesburg Water ontvang darem R1,22 miljard met ʼn verhoging van 13.9%. Hierdie verhoging skiet ver tekort om die geskatte agterstand van meer as R20 miljard in waterinfrastruktuur in te haal.
Die invorderingskoers is verlaag tot 86%, wat tot gevolg het dat die slegte skuldvoorsiening verhoog met 20.3% tot R8,68 miljard.
Hierdie slegte skuld is weens ʼn betalingsboikot in sekere gebiede van die metro, wat ook nie behoorlik aangespreek word nie.
Ten spyte van bostaande, is die begroting vir die “politiek gefasiliteerde-ooreenkoms” en die “vul van strategiese posisies” met 81.9% verhoog tot R701 miljoen en R100 miljoen onderskeidelik. Die burgemeesterskomiteelid vir finansies, Dado Morero, kon of wou geen antwoorde verskaf waarvoor die fondse geoormerk is nie.
Hierdie begroting spreek nie die uitdagings in die metro aan nie en dit is tyd dat inwoners van Johannesburg hul misnoeë met die ANC by die stembus op 29 Mei wys.


