Die VF Plus het vandag ’n klag namens ’n werknemer van Unisa by die openbare beskermer (OB) ingedien weens voortslepende ongerymdhede by dié instelling. In hierdie geval weens ‘n klaarblyklik onregmatige aanstelling.
Korporatiewe regering is lank reeds ’n krisis by Unisa. Die verslae van ’n ministeriële taakspan en ’n onafhanklike assessor, wat albei grootskaalse ongerymdhede en wanbestuur blootgelê het, het nie die nodige uitwerking gehad nie.
Die aanstelling wentel om ʼn werknemer wat afgetree het en daarna op ‘n termynkontrak van twaalf maande aangestel is.
Hierdie aanstelling is strydig met die reëls van Unisa. Alhoewel daar wel voorsiening vir sulke aanstellings is, bepaal die reëls dat geen persoon bo die ouderdom van 65 jaar op hierdie wyse aangestel kan word nie tensy daar werklik dwingende redes is om dit te doen.
Die prosedure om so ’n besluit te neem, is nie gevolg nie. Die kandidaat het ook nie die skaars vaardighede wat die pos vereis nie.
Die VF Plus het reeds skriftelike vrae aan die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, hieroor gerig.
Uit die antwoorde sou ‘n mens redelikerwys kon aflei dat Unisa die minister mislei het. Daar word onder meer verwys na die beskerming van belangrike persone (BBP’s) as die kandidaat se skaars vaardigheid, maar dit maak nie deel van die posbeskrywing uit nie.
Uiteindelik het die VF Plus besluit dat die parlementêre proses nie die gewenste uitwerking het nie en dat ’n klag by die OB die volgende stap is om te neem.
Dit is nie dat hierdie een geval die universiteit tot stilstand sal dwing nie, dit is eerder dat dit dié soort onreëlmatighede is wat ander verslae uitwys, sonder dat optrede tot dusver gevolg het.