Die VF Plus het nie die Merafong-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Welverdiend) se 2024/25-finansiële begroting van R2,6 miljard gesteun nie.
Die party het beswaar aangeteken teen die hoë tariefverhogings wat veral bejaardes, skole en tehuise vir bejaardes gaan benadeel.
Tehuise vir bejaardes is reeds onder druk omdat hulle nog nie hul diensooreenkomste van die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling vir die finansiële jaar ontvang het nie.
Die sukkelende munisipaliteit wie se skuld elke maand by Eskom en Rand Water oploop, het die afgelope jaar slegs ʼn invorderingstarief van 60% gehad.
Die VF Plus is nie oortuig van die munisipaliteit se voorneme om die persentasie na 93% in die komende finansiële jaar te verhoog nie.
Die munisipaliteit se lae invorderingskoers kan verder toegeskryf word aan sy betalingsaansporingskema wat voorsiening maak vir ʼn 50% afskrywing van historiese skuld indien die ander helfte onmiddellik vereffen word. Verbruikers moet eerder aangespoor word om hul rekenings getrou te vereffen.
Die verhogings is as volg:
Eiendomsbelasting: 6%
Myn-eiendomsbelasting: 7 %
Water 9.5%
Vullisverwydering: 6%
Riool: 9.5%
Elektrisiteit: 11.5%
Die Merafong-munisipaliteit faal sy inwoners keer op keer en die enigste manier om die munisipaliteit weer op sy voete te bring, is vir kiesers om op 29 Mei teen die ANC stem.