Alhoewel die komende verkiesing die belangrikste in 30 jaar is, het verskeie politieke partye in die Lekwa-plaaslike munisipaliteit (Standerton, Morgenzon) weens hul afwesigheid by ʼn belangrike raadsvergadering inwoners in die steek gelaat.
Weens die afwesigheid van die ANC, EFF en DA, kon die begroting vir 2024/25-finansiële jaar nie goedgekeur word nie aangesien ʼn kworum nie teenwoordig was nie.
Die verskonings wat deurgegee is, het ingesluit dat hulle besig is met verkiesingsveldtogte.
Dit is onaanvaarbaar aangesien daar ook verskeie nakomingsregulasies op vanoggend se agenda was. Die werksaamhede van dié belangrike vergaderings word op hierdie wyse ontwrig en dit kan as niks anders as politieke sabotasie bestempel word nie.
Die begroting moet voor 31 Mei goedgekeur word. Die gevolg is nou dat ʼn spesiale raadsvergadering gereël moet word en indien dit nie op daardie vergadering goedgekeur word nie, bestaan die gevaar dat die raad onder administrasie geplaas kan word.
Die munisipaliteit is reeds onder nasionale ingryping.
Die VF Plus doen ʼn beroep op raadslede om hul werk as openbare ampsdraers en dienaars van die publiek ernstig op te neem.
Indien die bogenoemde partye se raadslede aanhou met die minagtende optrede, sal die VF Plus klagte indien by die speaker, mnr. Sipho Majozi, om gepaste stappe teen die lede te neem.