In antwoord op ‘n vraag van die VF Plus in die Vrystaatse wetgewer, het die premier, Mxolisi Dukwana, die salarisse van die hoogsbesoldigde departementshoofde in die Vrystaat, bekend gemaak.
Gesamentlik verdien dié miljoenêrs R26 912 961 per jaar en verdien elkeen jaarliks tussen R2,15 miljoen en R2,42 miljoen.
Dit is ‘n skande dat hierdie departementshoofde, wie se departemente daarin misluk om basiese dienste te lewer, sulke enorme salarisse ontvang.
Hierdie mislukkings lei daartoe dat kiesers nie eens toegang het tot basiese regte soos water, sanitasie en ordentlike mediese behandeling nie.
Die miljoene wat Vrystaters moet opdok aan hierdie salarisse is ‘n skande in ag genome dat hierdie departemente nie vir die provinsie en sy mense werk nie.
Hierdie departementshoofde het nie oornag miljoenêrs geword weens hul jarelange kennis en ervaring soos suksesvolle sakelui nie, maar weens buitensporige salarisse wat nie ooreenstem met dienslewering nie.
Die Vrystaat het in die afgelope dekade meer as R1,3 miljard aan die nasionale regering teruggegee weens die provinsiale regering se onderbesteding. Hierdie fondse kon gebruik gewees het om ten minste 6 600 huise, 65 nuwe staatskole of 13 nuwe staatshospitale te bou.
Intussen is vier uit elke tien mense werkloos, word infrastruktuur soos paaie en hospitale nie herstel nie en word behuisingsteikens nie gehaal nie.
Die enigste manier om die Vrystaat te red, is om eerskomende Woensdag te stem om van die ANC ontslae te raak.
Vrystaters moet die huidige ANC-regering vervang met ‘n bevoegde en verantwoordbare koalisieregering waarvan die VF Plus deel is.
Saam kan ons die Vrystaat herstel en bou.