Die VF Plus in Stad Kaapstad het tydens die jongste raadsvergadering die aansuiweringsbegroting vir die 2020/2021 boekjaar verwerp.
Sowat R32,2 miljoen aan eiendomsbelasting is in die DA-beheerde metroraad onderverhaal, terwyl eiendomswaardasies algemeen as buitensporig hoog beskou word wat die finansiële druk op inwoners wat reeds sukkel om kop bo water te hou, verder verhoog.
Die groot hoeveelheid besware wat eienaars van residensiële eiendom aangeteken het teen die nuwe waardasies, is ‘n aanduiding hiervan.
Die gasvryheidsbedryf in Kaapstad het wel goeie nuus ontvang deurdat gastehuis-waardasies verander is vanaf sake- na residensiële tariewe weens die moeilike Covid-19-finansiële omstandighede waaronder die bedryf gebuk gaan.
Wat diensfooie betref, is die volgende bedrae onderverhaal terwyl dienslewering al hoe meer agteruitgaan:
Elektrisiteit : R86,8 miljoen
Sanitasie : R36,1 miljoen
Vullisverwydering : R3,5 miljoen
Daar is sowat R156,4 miljoen oorbestee aan gekontrakteerde dienste alhoewel woongebiede en informele nedersettings gereeld ‘n probleem met die verwydering van vullis en rioolstortings ervaar.
Kontrakteurs word teen buitensporige bedrae aangestel, meer as waarvoor daar begroot is, om te verhinder dat die alleenregerende DA-skip in Stad Kaapstad sink of swak lyk en inwoners betaal ten duurste daarvoor.
Covid-19 kan nie langer deur die Stad Kaapstad as verskoning gebruik word vir onderbesteding nie. Inwoners wat getrou hul belastings betaal, verdien behoorlike en volhoubare dienste.
Die VF Plus kan met inagneming van bogenoemde kwessies, nie die aansuiweringsbegroting vir 2020/2021-boekjaar aanvaar nie en versoek dat daar onder meer verbeterings aan administratiewe stelsels gedoen moet word.
Dienste wat nie gelewer word nie, is dienste wat weggeneem word van inwoners wat daarop geregtig is en daarvoor betaal.