Die VF Plus bevraagteken die inhoud van 'n kwartaalverslag van die voormalige administrateur van die Tshwane-metroraad, Mpho Nawa, wat aandui dat geen vrugtelose besteding onder sy beheer in die tydperk aangegaan is nie.
Nawa het van 1 Julie 2020 tot Oktober 2020 as administrateur van die metroraad gedien.
Die openbare rekeningekomitee sal die verslag wat aan die Tshwane-metroraad voorgelê is, aanstaande maand behandel.
Die VF Plus bevraagteken die verslag aangesien die spesiale ondersoekeenheid (SOE) reeds die Covid-19-uitgawes ondersoek wat deur die metroraad aangegaan is.
Nawa het ook ‘n vorderingsverslag vir sy tydperk as administrateur aan die raad voorgelê.
Die metroraad het egter besluit dat die openbare rekeningekomitee die inligting soos deur Nawa verskaf is, moet ondersoek om te verseker die inligting is korrek.
Die Gautengse administrasiebevel het groot skade aan die metroraad aangerig. Daar het ‘n agterstand met die uitreik van uitklaringsertifikate ontstaan, foutiewe munisipale rekening is uitgestuur, dienslewering was gebrekkig en die metro is in ‘n veel swakker finansiële posisie gelaat.
Die VF Plus in die Tshwane-metroraad is daartoe verbind om enige potensiële ongerymdhede wat deur die administrateur begaan is, te laat ondersoek en die skuldiges daarvoor aanspreeklik te hou.