Die VF Plus het die Gautengse polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, dringend versoek om addisionele polisielede beskikbaar te stel vir die hantering van vuurwapenlisensie-aansoeke voor die amnestieperiode eerskomende Sondag verstryk.
Die party het lt.genl. Mawela ook gevra vir die magtiging van oortydbetaling vir lede wat vuurwapenlisensies-aansoeke hanteer en om kantoorure te verleng.
Die VF Plus word oorval van klagtes rakende die vuurwapen-amnestieproses en dit blyk dat die polisie nie genoegsame personeel het om die proses te hanteer nie.
Beperkte kantoorure en streng Covid-19-regulasies strem die aansoekproses wat kan veroorsaak dat baie vuurwapeneienaars nie betyds hul aansoeke kan indien nie.