Die VF Plus verwelkom die hooggeregshof se uitspraak wat die Stad Kaapstad gemagtig het om onwettige grondbesetters op ‘n veld langs Baxterstraat in Durbanville te verwyder.
Die VF Plus verwelkom dit ook dat die party se inset tydens ‘n subraad sewe-vergadering op 23 November 2022 aanvaar is en die uitsettingsaansoek ook ander gebiede in Durbanville ingesluit het.
Alhoewel hierdie uitsetting as 'n oorwinning vir die metro beskou word, is daar baie meer gevalle van hierdie aard wat aandag vereis.
Baie van die onwettige plakkers wat geen ander heenkome het nie, het ook die verblyf wat die metro aangebied het, van die hand gewys.
Die uitsetting sal opgevolg moet word met rehabilitasie, plasing en herintegrasie van hierdie persone terug in die gemeenskap of hulle sal haweloos bly en vir die res van hul lewe in Durbanville se strate bly rondloop vir aalmoese.
Die hofbevel het ook die polisie opdrag gegee om verdere herbesetting van die betrokke eiendomme in Durbanville te voorkom.
Die uitdaging is dat die metro geen mag het oor die werksaamhede van die polisie nie. Om dus meer magte van die nasionale regering na provinsies oor te dra, sal sin maak, veral om die onwettige besetting van eiendomme te voorkom.
Die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond (PIE-wet) is die oorsaak dat die uitsetting van die onwettige grondbesetters so lank geneem het.
Volgens dié wet word die regte van onwettige bewoners van leë grond gestel bo dié van die wettige grondeienaar wat verplig is om in ‘n hof aansoek te doen om ‘n uitsettingsbevel.
Die vraag is dus of hierdie hofbevel 'n presedent sal skep vir alle toekomstige sake van onwettige grondbesettings en of elke saak 'n herhaalde reeks lang hofgevegte gaan wees.
Die reg op behuising is nie 'n absolute reg nie. Dit is slegs “toegang” tot behuising wat grondwetlik verskans is. Hierdie reg is egter afhanklik van beskikbare hulpbronne van die staat.
Wette moet wetsgehoorsame burgers beskerm en nie wetsoortreders wat geen ag slaan op die wette van plaaslike regerings nie.