Die jaarlikse plasingsprobleem van leerders in Gauteng moet eenvoudig voor die deur van die ANC-regering gelê word wat nie daarin slaag om genoeg skole te bou nie.
Elke jaar word daar gesukkel om alle leerders te plaas en toenemende druk word op veral Afrikaanse skole geplaas om meer leerders in te neem selfs nadat hulle vol is.
Die VF Plus verdoem hierdie werkswyse van die ANC omdat dit die reg op moedertaalonderrig bedreig en druk op infrastruktuur plaas wat weer tot 'n tragedie soos die by die Hoërskool Driehoek kan lei.
Die voorsitter van die Gautengse wetgewer se onderwyskomitee, mnr. Joe Mpisi, het juis hierdie week in 'n verklaring versoek dat veral Afrikaanse skole hulself moet oopmaak om ekstra leerders in te neem.
Die VF Plus wil die ANC daaraan herinner dat slegs 6,13% van alle openbare skole in Gauteng Afrikaans enkel- en dubbelmediumskole is.
Dit is onlogies om te dink dat die transformasie van die skole deur die inneem van ekstra nie-Afrikaanse leerders hoegenaamd die plasingsprobleem sal oplos.
Daar word glad nie gedink aan die reg tot moedertaalonderrig nie. Waar gaan die aansienlike getal Afrikaanse leerders skool gaan indien alle Afrikaanse skole vernietig is?
Naas die Wes-Kaap het Gauteng die meeste Afrikaanssprekende mense in die land. Hulle regte kan nie net geïgnoreer word nie en die VF Plus sal dit nie duld nie.
Die oplossing lê duidelik in die daarstel van meer skole-infrastruktuur nader aan gemeenskappe.
Die probleem is egter dat die ANC-regering nie korrek beplan deur behoorlike demografiese tendensontledings te doen nie.
In 'n onlangse skriftelike vraag wat die VF Plus gerig het aan die LUR vir onderwys, mnr. Matome Chiloane, het hy aangedui dat die behoefte vir plasing in 'n skool eers bepaal word wanneer ouers namens hul kinders aansoek doen (vraag en antwoord aangeheg).
Dit beteken dat die departement dan bloot reaktief optree en nie planmatig volgens tendens-analises nie.
Dit is een van die redes waarom daar elke jaar ongelukkige ouers in sekere gebiede is wat veg om ‘n plek in 'n beperkte aantal skole, soos byvoorbeeld in Pretoria-Noord.
In 'n verdere skriftelike vraag aan die LUR vir onderwys oor die aantal skole gebou sedert 2009/10 en 2020/21, het Chiloane aangedui dat 164 nuwe skole gebou is in die tydperk wat die totaal van openbare skole (spesiale skole uitgesluit) tot 2065 bring (vraag en antwoord aangeheg).
Dus is minder as 10% van die totale getal openbare skole in die laaste tien jaar bygevoeg terwyl die groei van Gauteng se bevolking in dieselfde tydperk meer as 10% was.
Luidens die Universiteit van Kaapstad se 'Children Count' webwerf, het die getal kinders in Gauteng gegroei van 3 419 000 in 2010 tot 4 417 000 in 2020 (http://childrencount.uct.ac.za/indicator.php?domain=1&indicator=1).
Dit dui op 'n aansienlike groei in behoefte vir openbare skole waarmee daar eenvoudig nie tred gehou word nie.
Die totale transformasie van alle Afrikaanse skole na Engels sal ook nie die probleem behandel nie aangesien daar slegs 127 enkelmedium Afrikaanse skole in Gauteng oor is (sien aangeheg – 2019 getalle). Dit is net meer as 3% van alle openbare skole.
Dit is daarom belaglik om te dink die oplossing van toegang tot skole lê daarin om Afrikaanse skole te transformeer.
Die onderwysdepartement moet eendersyds beter beplan om tendense aan die behoefte vir skole vas te stel en andersyds sorg dat meer skole gebou word.
Dit is veel belangriker as die vermorsing van kosbare openbare fondse deur korrupsie en vrugtelose uitgawes, soos met Covid-19-uitgawes om kwansuis skole skoon te maak.
Die VF Plus sal aanhou veg vir die voortbestaan van moedertaalonderrig en Afrikaanse skole en sal volgehoue druk op die ANC-regering plaas om meer skole te bou.