Die VF Plus verwelkom die versterking van Ekurhuleni se metropolisie met 475 nuwe lede.
Die groep sal ‘n welkome en belangrike leemte vul aangesien die gevolge van Covid-19-inperkings hul opleiding erg in die wiele gery het.
Waar die opleidingskursus gewoonlik agtien maande neem om te voltooi, het hierdie kursus drie jaar geduur.
Die nuwe lede sal oor die hele Ekurhuleni ontplooi word as deel van misdaadvoorkomingsprojekte.
Wat voertuie vir die metropolisie aanbetref, steun die VF Plus die voorstel wat onlangs voor die veiligheidsportefeulje gedien het dat die metro voertuie eerder moet huur as om dit aan te koop.
Die metropolisie besit tans 1 100 voertuie wat insleepvoertuie, motors en motorfietse insluit. Uit dié getal is 580 voertuie tans buite werking.
Die VF Plus glo met goeie bestuur en die politieke wil, kan die regeringskoalisie, waarvan die VF Plus deel is, die Ekurhuleni-metro finansieel omkeer en so ‘n plek te maak waarin baie wil woon en werk.