"Die VF Plus het die minister van handel en nywerheid, Ebrahim Patel, versoek om dringend die verbod op die verkoop van voorbereide voedsel op te hef," sê Jaco Mulder, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van handel en nywerheid.
"Daar bestaan regtens geen bepaling in die inperkingsregulasies wat voorsiening maak vir die uitsluiting van enige kategorie voedselproduk nie. Die enigste eksplisiete uitsluiting is dié van alkohol-bevattende kosprodukte.
"Wetstoepassingsagentskappe wat die verkope van voorbereide kos stopsit of daarop beslag lê, tree onregmatig op en staar moontlike siviele eise in die gesig."
"Die gevolg van hierdie optrede veroorsaak verder onberekenbare skade in die wegneemete-bedryf as noodsaaklike voedselverskaffer met 'n onafwendbare verlies aan werksgeleenthede," sê Mulder.