fbpx
Vryheidsfront Plus

Duidelikheid moet gegee word oor kwarantyn-geriewe

"Daar sal dringend meer duidelikheid gegee moet word oor kwarantyn-geriewe wat beskikbaar gestel is vir die Covid-19-tydperk sodat lede van die parlement, provinsiale wetgewers en munisipale raadslede hul oorsigrol hieroor effektief kan uitvoer met die nodige voorsorgmaatreëls om ook nie self deur die virus besmet te raak nie," sê Philip van Staden, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van gesondheid, openbare werke en infrastruktuur.

"Daar kom nog te veel klagtes na vore van persone wat vanaf buurstate en selfs die buiteland in hierdie geriewe moet tuisgaan en dit is duidelik dat dit nie ten volle gerat is om die mense te huisves nie. Regulasies dui aan dat persone wat oor grensposte na Suid-Afrika beweeg vir ‘n tydperk van 14 dae in hierdie geriewe moet tuisgaan. Dit kom tans gebrekkig voor wat betref die lewering van water, elektrisiteit, kos, beddens en skoon beddegoed asook die skoonmaak van die geriewe wat nie gereeld plaasvind nie.

 

"Die VF Plus is bekommerd dat te veel klagtes ontvang is vanaf geriewe vanuit Ellisras, Upington, Nababeep en Modderfontein in Tembisa. Dit is daarom uiters noodsaaklik dat die nodige inspeksies deur die departemente van gesondheid en openbare werke en infrastruktuur uitgevoer moet word om te verseker dat alles wel en in plek is by hierdie geriewe."

 

"Dit is ook noodsaaklik dat die geriewe se besonderhede bekend gemaak word en lede van die parlement, provinsiale wetgewers en munisipale raadslede ingelig kan word waar hierdie geriewe geleë is om te verseker dat die betrokke departemente wel hul werksaamhede effektief uitvoer.

"Die behoorlike opleiding van personeel wat in hierdie geriewe werksaam is, sal ook dringend na omgesien moet word. Dit wil voorkom of daar baie kommunikasie-probleme ontstaan het tussen die nasionale departemente, provinsiale departemente asook munisipaliteite wat die inrig en bestuur van die geriewe aanbetref," sê van Staden.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.