Die VF Plus veroordeel die optrede van lede van die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersvakbond (Samwu) wat vanoggend eiendom van Tshwane House, die metroraad se hoofkantoor, gedurende ‘n onwettige staking beskadig het. Die VF Plus dring daarop aan dat Samwu se leierskap hiervoor verantwoordelik gehou word.
Die optrede volg nadat die vakbond aangedring het op bykomende vergoeding wat nog nie uitbetaal is nie. Die betalings is weens die feit dat die Tshwane-metroraad se gradering opgeskuif het vanaf vlak 9 na ‘n vlak 10, wat beteken dat hoër salarisse terugwerkend betaal moet word.
Die Arbeidswet se voorskrifte is baie duidelik oor watter roete gevolg moet word indien ‘n arbeidsgrief ontstaan, en Samwu moet die voorskrifte soos enige ander vakbond volg en nie tot geweld oorgaan nie.
Die situasie in geheel laat rooi ligte oor die stad se finansies flikker. Waar die administrateurs vroeër aangedui het dat ‘n betaling wel gemaak sal word, word dit nou teruggehou.
Die VF Plus maan die administrateurs om die situasie vinnig en oordeelkundig op te los aangesien dienslewering hierdeur verder verswak word.
Navrae: 072 815 4053