fbpx
Vryheidsfront Plus

Belastingbetalers het rede om ongelukkig te wees oor die aanwending van hul belastinggeld

"Geld opsigself maak nie saak nie. Die waarde lê opgesluit in die aanwending daarvan, en belastingbetalers het daarom rede om ontevrede te voel oor die wyse waarop hul belastinggeld aangewend word. Van dienste is feitlik nie sprake nie terwyl bedrog en korrupsie aan die orde van die dag is," sê Michal Groenewald, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van samewerkende regering.

Hierdie diepgewortelde korrupsie in die staat, ook in die huidige nasionale inperkingstyd, het baie duidelik geblyk uit:

Die gemeenskapswerkprogram waar eise ingedien is deur dooies, die WVF-skandaal, die krisis in Noordwes se gesondheidsdepartement, die motorfietsskandaal in die Oos-Kaap, bedrog rondom die verkryging van beskermende klere, ‘n verlies van R32 miljard weens bedrog en korrupsie, slegs 20 uit 257 munisipaliteite wat skoon oudits gekry het, betalings van R1,2 miljard aan konsultante terwyl personeel betaal word om die werk te doen, bedrieglike aanstellings, senior amptenare se betrokkenheid by die VBS-skandaal sonder optrede, raadslede wat kospakkies verkoop, kragonderbrekings weens munisipaliteite se wanbetalings, vervalle munisipale infrastruktuur, sedert 2002 is slegs 32 korrupsie-ondersoeke uit 239 sake afgehandel met slegs 13 skuldigbevindings, bedrog rondom tenderpreneurskap, en vele meer.

 

 

"Tog gooi die regering in hierdie krisistyd ‘n verdere R11 miljard in die bodemlose put van munisipale vermorsing terwyl droogtehulp aan boere weggeneem word en geld vir infrastruktuur gesny word. Elke sent moet nou gebruik word om te beplan vir die lang termyn, soos infrastruktuurontwikkeling om ekonomiese groei en werkskepping te bewerkstellig.

"Dan verwag die regering boonop dat belastingbetalers ‘n verhoging in belasting- en dienstegelde sal aanvaar terwyl geld wat hulle nou betaal, só vermors word en waar daar in sommige gevalle geen dienste is nie.

"’n Goeie voorbeeld is die Mafube-plaaslike munisipaliteit in die Vrystaat (Frankfort, Tweeling, Villiers) wat reeds drie jaar onder administrasie is. Daar was die afgelope vier jaar geen afvalverwydering nie en geen onderhoud of herstel aan waterinfrastruktuur nie. Inwoners moet self stukkende waterpype herstel en vir dienste sorg terwyl hulle steeds dienstegelde betaal.

"Die gans wat die goue eiers lê, kan nie meer nie. Belastingbetalers gaan nie vir altyd aanhou betaal om bedrog en korrupsie te befonds terwyl hulle nie dienste ontvang nie. Belastings en tariewe vir dienste moet verdien word. Daar moet waarde vir geld wees. En dit gebeur nie," sê Groenewald.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.