Sodra die nuwe burgemeesterskomiteelid vir energie in die Ekurhuleni-metro aangewys is, sal die VF Plus 'n omvattende surplus-kragplan voorlê.
Die doel is om vroegtydig te verseker dat so 'n plan dadelik in werking gestel kan word indien Kemptonpark na die installering van die nuwe 66kV XLPE-hoogspanningskragkabels probleme ondervind.
Die ontwerp van ‘n surplus-kragplan is dringend nodig en sal uiteraard sorg dat gebiede in Kemptonpark se krag binne 'n uur of twee aangeskakel kan word.
Dit sal tegnici ook die geleentheid bied om kwaliteit werk aan die kragnetwerk te verrig en die uitdink van kitsoplossings wat die kragnetwerk op die langtermyn benadeel, voorkom.
Sekere gebiede in Kemptonpark se twee ring-netwerke het ‘n verdubbeling van kragkabels nodig om die surplus-kragplan ‘n werklikheid te maak.
‘n Elektriese storm het ‘n brand by die Rietfontein88kV-substasie veroorsaak wat die volgende gebiede sonder krag gelaat het: Esselenpark, Kemptonpark-Wes, Birchleigh, Birch Acres, Bredell, Pomona, Brentwoodpark, Nimrodpark, Bonaeropark, Terenure, Edleen, Glen Marais, Allen Grove en Rietfontein en omliggende gedeeltes.
Indien daar 'n ontwerp in plek is om surplus krag te lewer, sou die gebiede nie twee dae sonder krag gewees het nie.
Die VF Plus sal alles in sy vermoë doen om te sorg dat die hele Kemptonpark van ‘n stabiele kragnetwerk voorsien word.