Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus se waarskuwings oor krematorium in Paarl val al jare op dowe ore

Die Drakenstein-krematorium is nou weer onder die vergrootglas weens beweerde ongerymdhede wat sedert 2011 daar plaasvind ná ʼn berig in die Paarl Post.

Die VF Plus in die Drakenstein-plaaslike munisipaliteit (Gouda, Paarl, Saron, Wellington) waarsku jare reeds dat dié krematorium na bewering nie volgens wetlike vereistes funksioneer nie.

Die waarskuwings het telkens op dowe ore geval.

Nie die Drakenstein-munisipaliteit of die Kaap Wynland-distriksmunisipaliteit wat moet toesien dat die krematorium volgens wetlike vereistes bedryf word, was bereid om aandag te skenk aan die party se klagtes nie.

Versoeke is ook aan die Wes-Kaapse regering gerig sonder enige sukses.

Volgens inligting gestaaf deur foto’s wat die VF Plus aan die betrokke partye gestuur het, blyk dit dat meer as een oorledene op ʼn slag veras word en dat diere selfs saam met menslike oorskot veras word.

Lyke word selfs buite opgestapel sonder die nodige verkoeling.

Daar was ook al talle klagtes oor die stank wat van die krematorium kom en dat rook nie net deur die skoorsteen gaan nie, maar ook by die deure uitborrel.

Personeel werk blykbaar sonder die nodige veiligheidstoerusting.

Die VF Plus steun FIRA (Funeral Industry Reformed Association) in sy klag wat hy teen die krematorium by die menseregtekommissie (MRK) in dié verband gaan indien.

Wat by die betrokke krematorium gebeur, is ʼn vergryp wat nie geduld kan word nie. Mense het die reg om op ʼn waardige manier behandel te word, selfs na hul afsterwe en veral naasbestaandes se menseregte word aangetas.

Van die VF Plus se eie lede se familielede is in die krematorium veras en die onthullings dat hulle dalk nie net hul geliefdes se as ontvang het nie, maar ook die van ander oorledenes of selfs diere, lei nou tot emosionele en sielkundige skade.

Dit is onaanvaarbaar dat die verantwoordelike owerhede vir so lank hul oë en ore vir die pleidooie en klagtes van die gemeenskap en die VF Plus gesluit het.

Dit maak hulle medeverantwoordelik vir die skokkende situasie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.