Die VF Plus het die burgemeester van Dipaleseng-plaaslike munisipaliteit (Balfour, Greylingstad, Grootvlei), me. Khetiwe Moeketsi, by die openbare beskermer (OB) aangekla vir beweerde tenderbedrog.
Die party het ook 'n klag teen haar by die polisie ingedien.
'n Artikel 106-ondersoek in terme van die Munisipale Stelselswet het vroeër vanjaar talle ongerymdhede in die munisipaliteit uitgewys. Die ondersoek was egter net van toepassing tot en met Junie 2020 en ongerymdhede ná daardie tydperk is nie ondersoek nie.
Sedertdien het die VF Plus inligting ontvang rakende 'n sekuriteitskontrak tussen die munisipaliteit en twee maatskappye wat aan die VF Plus bekend is. Kort na die toekenning van dié kontrak is daar drie luukse Toyota Hilux-bakkies aan sekere amptenare gegee.
Een is glo aan Moeketsi beskikbaar gestel terwyl sy nog die speaker van die Dipaleseng-raad was. Die ander twee is glo aan die voormalige hoof van finansies, Clement Letsoalo en ‘n derde onbekende persoon oorhandig.
Die tenderpreneurs wat die voertuig vir die burgemeester gekoop het, het vanaf November 2019 'n driejaarkontrak ontvang om bates by die Dipaleseng-munisipaliteit te beveilig.
Die VF Plus het die burgemeester reeds drie keer versoek om duidelikheid rondom die transaksie van die voertuie te gee, maar dit het nooit gebeur nie.
Die VF Plus het in sy klag die OB versoek om spoedig ondersoek in te stel en remediërende stappe te neem wat insluit dat daar strafregtelik teen opgetree word indien enigiemand skuldig bevind sou word.
Die VF Plus het 'n verkiesingsbelofte gemaak dat hy as waghond teen korrupsie sal optree en sal hieraan uitvoering gee.