'n Noodtoestand oor krag is nie nodig om die huidige elektrisiteitskrisis op te los nie.
Die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, word deur die Elektrisiteitsreguleringswet in staat gestel om die huidige administratiewe rompslomp ten opsigte van byvoorbeeld privaat elektrisiteitsopwekking, uit te skakel.
Die VF Plus het al by herhaling sy standpunt gestel dat oplossings vir die land se kragprobleme buite die staat se direkte invloedsfeer in private opwekking lê.
Om dit te vermag, is dit nodig om administratiewe rompslomp uit te skakel en beleid te verander waarvoor geen noodtoestand nodig is nie.
Eerder as 'n noodtoestand moet die parlement se kiesafdelingsperiode opgeskort word en moet die parlement 'n noodbegroting oorweeg, nodige wetwysigings maak en die nodige oorsig doen om die krisis aan te spreek.
'n Noodtoestand se moontlike regulasies om verkrygingsprosesse uit te skakel, sal die deur ooplaat vir korrupsie soos wat met die Covid-19-ramptoestand gesien is.
Daarbenewens is enige reddingsaksie se kans op sukses gering met die ANC aan stuur van sake. Jarelange en peperduur reddingsaksies by die SAL en ander staatsentiteite en munisipaliteite getuig daarvan.
Die VF Plus vrees ook dat die regering 'n noodtoestand kan misbruik om ontoepaslike, omgewingsonvriendelike oplossings deur te dwing wat nooit gewone regulering en marktoestande sou oorleef nie.
Die minister van minerale hulpbronne en energie het hom by herhaling verbind tot seismiese eksplorasie en hidrobreking wat groot omgewingsgevare inhou. Dit is tot nou toe met hofaksies gestuit.
Die regering het vanjaar ook met sy sogenaamde noodkragprogram waar swaar op kragskepe geleun sal word, die wind van voor gekry en tenderprosesse is reeds bevraagteken.
Drywende kragstasies gebou op skepe moet by 'n hawe aanmeer en aan die netwerk koppel. Die energiebron is aardgas en Suid-Afrika beskik nie oor die infrastruktuur om aardgas by hawens te kry nie.
Die koppelings om daardie lading in die netwerk in te stoot, bestaan ook nie by enige Suid-Afrikaanse hawe nie.
Die VF Plus is in beginsel nie teen die gebruik van kernkrag nie. Die omvang en onmiddellikheid van die land se kragkrisis verwyder dit egter as ‘n opsie. Die huidige situasie met pogings om Koeberg se leeftyd te verleng, laat ook meer vrae as antwoorde.
Die kragkrisis word met hoofsaaklik steenkoolkragsentrales ondervind. Bestaande sentrales is verby hul leeftyd en tesame met swak onderhoudswerk is dit besig om in duie te stort.
Pogings om te volhard met die opwekking van steenkoolkrag het gelei tot Medupi en Kusile en die peperduur fiasko hiervan is welbekend.
Eindelik lê die kern van die Eskom-ineenstorting in die totale onvermoë van die regering en die direkte gevolge van regstellende aksie (RA) en korrupsie. Dit het onlosmaaklik deel van die ANC geword.
Suid-Afrika se ligte sal eers weer aangaan wanneer daar van die ANC ontslae geraak word.