Die VF Plus het tydens ‘n raadsvergadering van die JB Marks-plaaslike munisipaliteit (Potchefstroom, Ventersdorp) daarin geslaag om die aansuiweringsbegroting van dié munisipaliteit te laat afkeur.
Die VF Plus se voorstel om die begroting nie goed te keur nie, het gevolg nadat die burgemeester, Kgotso Khumalo, geen antwoorde op belangrike kwessies kon verskaf nie.
Dit kwessies handel onder meer oor onverklaarbare en groot uitgawes wat deur die sport en ontspanningsdepartement tydens die Covid-19-inperkingstydperk aangegaan is. Ook oor die verkeersdepartement wat skynbaar slegs daarin kon slaag om R11 000 se boetes vir die jaar uit te reik in stede van die begrote R45 miljoen.
Die VF Plus het ook aangedring op antwoorde oor die uitkontraktering van dienste terwyl die munisipaliteit oor goed besoldigde werknemers beskik wat aangestel is om juis hierdie dienste te lewer.
Die burgemeester het as deel van sy antwoord erken dat die munisipaliteit reeds 47% oorbestee het aan sy begroting vir kontrakteurs en dat hy wil aansoek doen vir verdere befondsing om hierdie uitgawes te dek.
Khumalo se antwoord en erkenning dui duidelik op die swak beplanning en onstabiliteit wat in die ANC-beheerde JB Marks-munisipaliteit heers.
Khumalo se erkenning dat die munisipale bestuur beheer oor die munisipaliteit se departemente verloor het en dat vakbonde die bestuur oorgeneem het, kom as geen verrassing vir die VF Plus nie.
Dit is bekend dat die ANC se alliansie-vennoot, SAMWU, die grootste vakbond in die munisipaliteit is.
Daar is sommige munisipale werknemers wat byna net oor naweke werk om oortydbetaling te verdien.
Die JB Marks-munisipaliteit se debiteure-boek beloop ook reeds die skokkende bedrag van R772 miljoen terwyl die munisipaliteit in die onlangse verlede nog gespog het met van die beste invorderingskoerse in die land en ‘n stewige balansstaat.
Die VF Plus is op grond hiervan geen keuse gelaat as om teen die aansuiweringsbegroting te stem nie.
Dit is ‘n absolute skande dat die ANC-regering toelaat dat inwoners van die eens vooruitstrewende gemeenskappe van Potchefstroom en Ventersdorp uitgelewer word aan die magsvergrype deur sy alliansie-vennote wat bloot op selfverryking ingestel is.
Die stand van die JB Marks-plaaslike munisipaliteit is net nog ‘n voorbeeld dat die ANC nie in staat is om suksesvol op enige regeringsvlak te regeer nie.
Die VF Plus sal voortgaan met sterk optrede teen hierdie tipe vergrype en sal wanbestuur en korrupsie in die munisipaliteit uitwys en beveg.
Navrae: 076 294 2998