fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus in Zeerust eis optrede teen “afwesige” munisipale bestuurder

Die VF Plus in Zeerust het op 30 Junie 2020 'n formele versoek aan die speaker van die Ramotshere Moiloa-plaaslike munisipaliteit (Groot Marico, Zeerust) gerig vir 'n dringende ondersoek en gepaste dissiplinêre optrede teen die munisipale bestuurder, Ditshaba Makhate.

Hierdie stap volg op sy skynbare weiering om op enige klagte van raadslede te reageer, of selfs met raadslede te kommunikeer oor diensleweringskwessies.

Die dorp gaan reeds lank gebuk onder talle probleme met infrastruktuur wat verval weens 'n gebrek aan instandhouding. Daar is gereelde onderbrekings in krag- en watertoevoer na huishoudings en sake-ondernemings, straatligte werk nie en die strate is besig om te verval.

Net in die afgelope drie dae was daar reeds vyf gevalle waar pype gebars het en groot dele van die dorp sonder water gelaat is.

Die gevolge hiervan op die gemeenskap is verreikend. Die veiligheid en gesondheid van inwoners word geraak en ondernemings lei gereeld skade weens hierdie gebrek aan dienslewering.

Die volhoubaarheid en voortbestaan van hierdie eens vooruitstrewende gemeenskap word nou bedreig weens die onvermoë van dié ANC-beheerde munisipaliteit om selfs sy mees basiese verpligtinge teenoor die gemeenskap na te kom.

Dit is daarom van kritieke belang dat daar onmiddellik opgetree word en dat die munisipaliteit onder professionele bestuur geplaas word.

Navrae: 073 200 3309

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.