Die VF Plus in Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Tarlton, Muldersdrif) kan nie die finansiële begroting vir die 2020/2021-boekjaar steun nie aangesien die speaker, Noluthando Mongole, geen van die opposisiepartye ’n spreekbeurt gegun het nie en ondemokraties na ’n blokstemming oorgegaan het met die ter tafellegging van die begroting gister.
Die munisipaliteit is boonop glad nie realisties om die jaarlikse invorderingskoers op 90% te bereken nie. Die VF Plus is van mening dat die invorderingskoers baie laer as die huidige 83% sal daal omdat belastingbetalers onder geweldige ekonomiese druk verkeer.
Die party steun wel die feit dat eiendomsbelasting nie verhoog gaan word nie, asook die besluit om ‘n bykomende korting te gee op residensiële eiendom. Die korting is egter nie van toepassing op besigheidspersele nie en plaas verdere druk op ondernemings wat reeds sukkel om hul deure oop te hou. Die munisipaliteit het sy plig versuim om sakelui te ondersteun om die dorp se ekonomie te help stimuleer.
Die volgende verhogings is aangekondig:
Elektrisiteit: 6.22%
Water en riool: 6.6%
Vullisverwydering: 6%
Die VF Plus is ook gekant teen ’n salarisverhoging van 6.25% vir amptenare, wat die personeeluitgawes op 29% van die totale uitgawes van die munisipaliteit te staan bring. Dit is nie volhoubaar nie en sal in die volgende begroting weerspieël word.
Die begroting maak verder voorsiening vir buitensporige diensverskaffer-uitgawes. Mogale City gaan in die volgende jaar R94 miljoen aan private sekuriteitsmaatskappye bestee.
Belastingbetalers sal ook R700 000 betaal vir ’n nuwe motor vir die speaker terwyl die begroting vir die instandhouding van infrastruktuur ver te kort skiet.
Die afbetaling van leningsrekenings vorm ’n groot deel van die begroting en die afhanklikheid van regeringstoelae is riskant en kan die munisipaliteit se likwiditeit in gedrang bring.
Die munisipaliteit het die inwoners van Mogale deels gefaal deur hulle nie in die huidige ekonomiese krisis tegemoet te kom nie.
Navrae: 082 806 7891