Die VF Plus verwelkom die ondersoek na die Ugu-distriksmunisipaliteit (Harding, Hibberdene, Margate, Pennington, Port Edward, Port Shepstone, Scottburgh/Umzinto North, Southbroom) se moontlike korrupsie met Covid-19-tenders.
Volgens die KwaZulu-Natalse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Sipho Hlomuka, is daar vir die tydperk van 15 Maart tot 11 September 2020 R749,5 miljoen deur KwaZulu-Natalse munisipaliteite aan Covid-19-verwante uitgawes bestee.
Die Ugu-distriksmunisipaliteit se uitgawes in die verband beloop R28 876 322 miljoen. Cogta het versoek dat die huidige finansiële verslae geassesseer word om ongemagtigde uitgawes uit te lig en te verseker dat die nodige verkrygingsprosedures te alle tye gevolg is. ‘n Volledige lys van die huidige goedgekeurde verskaffers wat in dié tydperk gebruik is, moet ook verskaf word.
Die LUR het ook bevestig dat daar probleme is met die watertenk-diensleweringtender en het die betrokke munisipale amptenare 21 dae gegee om 'n plan van aksie in plek te kry om die probleme op te los om ‘n herhaling te voorkom.
Dit is teleurstellend dat die Ugu-distriksmunisipaliteit, wat eens as een van die bes bestuurde distrikte in KwaZulu-Natal beskou is, nou klaarblyklik ook in die slagyster van korrupsie getrap het.
Die ondersoek na korrupsie in die munisipaliteit word verwelkom en die VF Plus eis dat skuldige bestuurslede en amptenare verantwoording doen.
Die VF Plus sal nie op die kantlyn staan en toekyk hoe geld, wat veronderstel is om dienste aan behoewendes te lewer, geplunder word deur gewetenlose amptenare nie.
Navrae: 079 509 9067