Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus help onderdrukte Chinese minderheid om wêreld oor hul lot in te lig

Die VF Plus beskou homself as ʼn kampvegter vir minderhede in Suid-Afrika en het daarom groot empatie met die Uyghurs wat groot onderdrukking in hul land ervaar en met hul stryd om hul lot aan die wêreld bekend te maak.

Die party vind aanklank by die benarde situasie van die groep gegewe die druk op wittes en Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika deur rasgegronde wette wat onder meer toegang tot die werkplek reguleer en Afrikaanse taal en onderwysinstellings bedreig soos nou met die Bela-wet.

Net soos die Uyghurs het die VF Plus oor dekades ook beskikbare internasionale platforms soos die organisasie Unpo (Unrepresented Nations and Peoples Organisation) gebruik om die wêreld in te lig oor die situasie in Suid-Afrika.

Dit was hier waar die party se paaie met verteenwoordigers van die Uyghurs gekruis het.

Die Uyghurs is tans besig met ʼn wêreldwye inligtingstoer en besoek Afrika en Suid-Afrika binnekort. Die besoek aan Suid-Afrika is van 11 tot 17 November en die VF Plus is bereid om die groep te help om mediagesprekke te fasiliteer.

ʼn Skrywe van die World Uyghur Congress (WUC) aan die VF Plus lui onder meer dat die reis na Afrika en Suid-Afrika se doel is om “bewustheid oor die voortslepende menseregtekrisis in Oos-Turkestan (Xinjiang) te skep”.

“Die fokus sal wees op die verskillende aspekte van die Uyghur-volksmoord wat grootskaalse arbitrêre aanhouding, gesinsskeiding, gedwonge sterilisasie, dwangarbeid, orgaan-oesting, sistematiese uitskakeling van godsdiensvryheid en ander gruweldade teen die Uyghur-mense insluit”. (Die volledig skrywe word hierby aangeheg).

Mnr. Dolkum Isa, ʼn verteenwoordiger van die Uyghurs, is beskikbaar om die media te woord te staan. U kan Pieter Swart by 065-801-7216 bel om ʼn afspraak te reël.

Meer oor die Uyghers:

(Berig van die BBC op 24 Mei 2022 – Who are the Uyghurs and why is China being accused of genocide? – Afrikaanse vertaling). (https://www.bbc.com/news/world-asia-china-22278037)

China word beskuldig van misdade teen die mensdom en moontlik volksmoord teen die Uyghur-bevolking en ander meestal Moslem-etniese groepe in die noordwestelike streek van Xinjiang.

Menseregtegroepe meen China het die afgelope paar jaar meer as een miljoen Uyghurs teen hul wil aangehou in ‘n groot netwerk van wat die staat “heropvoedingskampe” noem en het honderdduisende tot tronkstraf gevonnis.

Inligting wat die BBC in 2022 in polisielêers gekry het, gee besonderhede oor China se gebruik van hierdie kampe en beskryf die roetinegebruik om persone wat ontsnap, voor die voet dood te skiet.

Amerika is een van verskeie lande wat China voorheen daarvan beskuldig het dat hy volksmoord in Xinjiang pleeg. Die menseregtegroepe Amnesty International en Human Rights Watch het reeds verslae gepubliseer waarin China hieroor van misdade teen die mensdom beskuldig word.

China ontken bewerings van menseregtevergrype in Xinjiang en sê hy tree op teen “terreur” in die gebied om “vrede en voorspoed” te bring.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.