fbpx
Vryheidsfront Plus

Trump-oorwinning ook ʼn oorwinning vir ware demokrasie en goeie waardes

Donald Trump is weer verkies tot president van Amerika en die VF Plus wil hom hartlik geluk wens met sy oorwinning en met die uitdagings wat veral op die internasionale arena voor hom lê.

Die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, sal ook ʼn brief van gelukwensing aan pres. Trump stuur.

Die verkiesing is nie net ʼn oorwinning vir Trump nie, maar ook vir ware demokrasie wat gewys het dat goeie waardes, veiligheid en ʼn sterk ekonomie steeds die grootste motivering vir gewone kiesers is om hul kruisie by die stembus te gaan trek.

Trump het sy persoonlike staal en deursettingsvermoë getoon deur staande te bly nieteenstaande ʼn geweldige aanslag teen hom.

Op hul beurt het kiesers gewys dat hulle tussen ʼn warboel inligting op sosiale media en soms erg eensydige mediaveldtogte, steeds in staat is om self die kaf van die koring te skei en hul eie besluite te neem. Dit is verblydend.

Wat sy verhouding met Suid-Afrika aanbetref, is dit bekend dat Trump se styl pragmaties en oop is. Hy het in sy vorige termyn nie gehuiwer om ʼn vermanende toon teenoor die ANC-regering in te neem nie, soos oor plaasmoorde.

Suid-Afrika se groeiende toegeneentheid jeens veral China kan wel toekomstige verhoudinge versuur.

Daar moet in gedagte gehou word dat dit reeds gespanne is weens onder meer Suid-Afrika se verhouding met Rusland en sy besluit om Israel by die Internasionale Geregshof te verkla.

Die Amerikaanse kongres het verlede jaar reeds besluit dat Amerika se bande met Suid-Afrika herbesoek moet word.

Daar is wel ʼn mate van optimisme in Amerika oor die moontlikhede van die regering van nasionale eenheid (RNE), maar die regering sal moet wys dat sy internasionale verhoudinge meer onverbonde is.

Die nuwe Amerikaanse administrasie sal dit fyn dophou.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.