Weens die volgehoue druk wat die VF Plus in die parlement toegepas het, word die Wetsontwerp op die Beheer van Tabakprodukte en Elektroniese Afleweringstelsels van 2022 nou gestuur na Nedlac (Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings-en Arbeidsraad) vir konsultasie en handeling.
Die VF Plus het die afgelope paar maande met die hulp van vennote in die regering van nasionale eenheid (RNE) en selfs opposisiepartye druk op die ANC geplaas om die wetsontwerp eers na Nedlac te stuur voordat die parlementêre portefeuljekomitee vir gesondheid kan voortgaan met die prosessering daarvan.
Dit het gevolg nadat die departement van gesondheid nie eerlik was oor die prosesse wat gevolg is met openbare konsultasie nie en die ANC probeer het om onenigheid in die komitee daaroor toe te smeer.
Nedlac het egter in die media ontken dat hy insae kon lewer en Business Unity South Africa het ook beswaar teen die parlementêre proses aangeteken.
Dit het gelei tot ʼn hewige stryd in die komitee en die VF Plus het geweier om van sy standpunt af te sien.
Die party het daarop aangedring dat die regte prosedures gevolg moet word om onvermydelike regsaksies teen die regering te vermy. Daar was hoegenaamd geen konsensus in die komitee oor die hantering en prosesse van die wetsontwerp nie.
Die VF Plus het in daardie stadium aangedui hy sal voortgaan om druk op die komitee te plaas om te keer dat ʼn onverantwoordelike wet wat nie goed deurdink is nie, op ʼn onbehoorlike wyse op die wetboek geplaas word.
Die voorsitter vir die komitee, dr. Sibongiseni Dhlomo, het gister in ʼn mediaverklaring aangekondig dat daar nou ʼn behoorlike konsultasieproses tussen die departement van gesondheid en Nedlac gevolg gaan word sodat die sakesektor, arbeid en andere hul insette kan gee.
Nedlac sal na bestudering van die wetsontwerp ʼn volledige verslag aan die parlement voorlê.
Die VF Plus beskou hierdie aankondiging as ʼn belangrike oorwinning en bedank alle regeringsvennote en opposisiepartye wat hom gesteun het in die proses.
Die ANC moet besef dat hy nie meer alleen regeer, al die mag het en meer kan maak en breek soos hy wil nie.
Die VF Plus sal as lid van die RNE nie toelaat dat die ANC alleenreg oor belangrike besluite opeis nie en sal deurentyd in die belang van die publiek optree.