fbpx
Vryheidsfront Plus

Minister moet dringend ingryp by waterkrisis in Matjhabeng

Die minister van water en sanitasie, Pemmy Majodina, moet nou dringend ingryp by die waterkrisis wat inwoners van die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit (Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia, Welkom) weereens teister.

Die VF Plus dring in ʼn brief aan die minister daarop aan dat sy die munisipaliteit, waar inwoners vir meer as tien dae nie water het nie, self besoek om haar van die krisis te vergewis en op te tree.

Die betrokke waterraad, Vaalsentraal, het op 29 Oktober toevoer na die munisipaliteit gesluit om dringende herstelwerk aan sy Saaiplaaspypleiding naby Virginia te doen. Sedertdien bly krane in die munisipaliteit droog.

Beide Matjhabeng en Vaalsentraal se stilte oor die watertekort dra verder by tot inwoners se frustrasie.

Dit is duidelik dat die verhouding tussen die munisipaliteit en die waterraad toenemend skipbreuk lei. Die astronomiese skuld van R6.9 miljard van Matjhabeng beteken dat die waterraad nie sy verantwoordelikhede kan nakom nie.

Matjhabeng se afbetalingsooreenkoms van R12 miljoen per maand met die waterraad is eenvoudig nie genoeg om Vaalsentraal se bedryfskoste te finansier nie.

Intussen word inwoners, waarvan baie water vooraf aankoop, se grondwetlike reg tot toegang tot skoon water van hulle ontneem.

Hoewel die departement van water en sanitasie in Augustus vanjaar probeer ingryp het, is dit duidelik dat dit tot dusver geen vrugte afgewerp het nie.

Die minister het geen ander keuse nie as om by die voortslepende krisis in te gryp en daadwerklike oplossings vir inwoners te bewerkstellig.

Die VF Plus sal volhou dat waterlewering ʼn prioriteit moet wees vir die munisipaliteit en nasionale regering.

Die tyd het aangebreek om te herstel en ons gemeenskappe weer op te bou.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.