ʼn Oorsigbesoek van die Gautengse wetgewer se portefeuljekomitee vir omgewingsake, landbou en landelike ontwikkeling aan die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift), het ernstige probleme uitgewys oor die roekelose waterbesoedeling van spruite en die wanbestuur van die Luipaardsvlei-stortingsterrein.
Die komitee, waarvan die VF Plus die voorsitterskap beklee, het hom sterk uitgespreek oor die gevolge van rioolbesoedeling op openbare gesondheid, landbou, ekonomiese ontwikkeling en die omgewing in die algemeen.
Die Luipaardsvlei-stortingsterrein, wat weke gelede in opdrag van die Gautengse departement van omgewingsbestuur gesluit is, se afvalmateriaal word nou na naburige vullisterreine geneem.
Dit is duidelik dat die Luipaardsvlei-stortingsterrein swak bestuur is. Strafregtelike prosesse is reeds deur verskeie instansies aanhangig gemaak weens herhaaldelike brande by die terrein.
Vandalisme en swak onderhoud aan die Flip Human-watersuiweringsaanleg besoedel die Rietspruit en Vaalrivier en die Percy Stewart-watersuiweringsaanleg besoedel die Bloubankspruit en die Krokodilrivier.
Laasgenoemde vloei deur die Wieg van die Mensdom, ʼn Unesco-verklaarde wêrelderfenisgebied, na die Hartbeespoortdam.
Die komitee het ook kennis geneem van ʼn verslag van die African Potential Partnership wat TB-organismes en verhoogde swaarmetaalvlakke in die water gevind het.
Die besoedelde water hou ʼn risiko in vir die gesondheid van mens en dier en kan voedselsekerheid benadeel. Ook in dié geval is klagte teen die Mogale City-munisipaliteit gemaak vir sy onvermoë om onverwerkte riool te behandel.
Die komitee het ook sy kommer uitgespreek oor die vandalisering by die onvoltooide rioolaanleg van die Dr. Sefularo Village-laekoste-behuisingsontwikkeling in Hekpoort. Die rioolstroom mond reg bo die Magaliesrivier uit. Boere in die omgewing maak staat op water uit die riviere vir besproeiing en water vir hul vee.
Die VF Plus sal met sy rol in die Gautengse wetgewer voortgesette druk op die provinsiale departement van omgewingsake en die Mogale City-munisipaliteit plaas om verdere besoedeling van water te voorkom.